Sowat 25% van die land se suikermark is oorgeneem deur ingevoerde produkte, wat die bedryf se wins ’n knou van R2,3 miljard gegee het.

Die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (Sasa) het die Regering gevra om dringend in te gryp deur te vra dat die dollargebaseerde verwysingsprys tot $856/ton verhoog word. Suid-Afrika het pas een van sy ergste droogtes ervaar en die suikerbedryf het sedert die seisoen van 2014-’15 seisoen al verliese ervaar. Ten spyte daarvan het ’n “administratiewe fout” van die Regering veroorsaak dat suiker van 28 Julie 2017 tot 15 September 2017 tariefvry uit Brasilië en die Verenigde Arabiese Emirate ingevoer is. Boonop was die invoertarief vir die res van verlede jaar baie laer as wat dit moes wees.

Saamstaan

Intussen kyk die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) na die tariefvoorstel wat die bedryf gemaak het.

Mnr. Lionel October, direkteur-generaal van die Departement van Handel en Nywerheid, het gesê die kommissie het hom daartoe verbind om die proses te bespoedig.

FairPlay, ’n internasionale teenstortingsinisiatief wat hom beywer om storting te beëindig, het aangedui hy wil ook hê die suikertariewe moet meer gereeld en makliker verander word. Mnr. Francois Baird, stigter van FairPlay, het gesê ’n meer buigbare tarief wat makliker aangepas word, is een element om ’n volhoubare bedryf te verseker. “Wanneer omstandighede verander, moet daar onmiddellik ’n reaksie wees.

“As Suid-Afrika die petrolprys op kort kennisgewing in reaksie op wêreldmarkte kan verander, kan ’n tarief teen invoer wat plaaslike bedrywe te na kom, ook verander word wanneer dit verlang word. Dit is om ’n gelyke speelveld vir duisende werkers in die suikerbedryf te skep.”

Baird het ook gesê ’n sterk etanolbedryf sal help om olie-invoere te verlaag, wat Suid-Afrika se betalingsbalans sal verbeter.