Die belasting is in 2018 ingestel en is van toepassing op versoete drankies met meer as 4 g suiker per 100 ml. Dit word nou verhoog met 2,21 sent per gram bo die vlak van 4 g suiker per 100 ml.

Die rede vir die verhoging is “om te verhoed dat die waarde van die belasting weens inflasie weggevreet word”, volgens die nasionale Tesourie. Die hoop van die bedryf dat ander versoete produkte nie bygevoeg is nie, is egter gestand gedoen.

Mnr. Hans Hackmann, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV), sê die bedryf is onder groot druk. ’n Groot persentasie van die plaaslike suikermark is verloor weens die instel van die suikerbelasting. Nagenoeg 200 000 ton suikerverkope het in die plaaslike mark verlore gegaan namate vervaardigers drankies herformuleer om minder suiker te bevat.

Hy sê die bedryf staan op die rand van ’n krans weens dié daling, die slag wat die bedryf toegedien is toe sowat 500 000 ton suiker verlede jaar vir sewe weke tariefvry ingevoer is weens ’n fout deur die Regering, asook die feit dat ’n lae verwysingsprys ingestel is. Die Regering het die dollargebaseerde verwysingsprys, waarop die invoertarief gegrond word, van $566/ton tot $680/ton verhoog, terwyl die bedryf gevra het vir ’n verwysingsprys van $856/ton.

Diversifisering

Hackmann sê diversifikasie kan ’n oplossing bied, veral die opwekking van elektrisiteit en die vervaardiging van biobrandstof.

Die SASV het reeds samesprekings rakende hernubare energie met die Regering gehad, maar tot op hede nog geen tasbare sukses behaal nie. “Ons moet ons produksiemengsel diversifiseer deur hernubare energie van suikerriet te maak.”

Hackmann sê lewensbaarheidstudies is oor die jare reeds gedoen en die bedryf is gereed om hierdie nuwe fase aan te pak, mits hy die geleentheid gegun word.

“Die Regering moet ons die reg gee om dit te doen, dit is al waarvoor ons wag. Ons het reeds voorstelle en strategieë by die departement van Energie en van Handel en Nywerheid ingedien en wag op ’n antwoord van wat moontlik is.”

Hy het benadruk dat die Parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid, pres. Cyril Ramaphosa en die Departement van Handel en Nywerheid help om die bedryf uit sy benarde posisie te red. “Ramaphosa het selfs verlede jaar op Goeie Vrydag met ons ontmoet sodat die tariefprobleem opgelos kon word.” Maar die biobrandstofbedryf is nog in sy kinderskoene in Suid-Afrika en miljarde sal benodig word om infrastruktuur te skep vir biobrandstof.

Indien ’n uitkoms nie gou kom nie, wat gaan die sektor doen?

Hackmann sê 40% van wat die bedryf nou produseer, moet teen baie lae pryse uitgevoer word en dit is nie volhoubaar nie.

Indien dit so aangaan, sal die bedryf kleiner gemaak moet word om nie so baie blootgestel te wees aan die uitvoermark nie. Dit sal beteken dat boere die suikerrietbedryf verlaat en van die suikermeulens kan toemaak, wat werksverliese gaan meebring.

Intussen het die Parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid ’n verslag aangevra rakende die voortslepende droogte in KwaZulu-Natal, wat ook die bedryf raak.