’n Verbruiker het in 2019 R9,56 meer vir ’n liter melk betaal as wat ’n boer vir ’n liter onverwerkte melk ontvang het.

Die gaping tussen die twee pryse het sedert 2010 met 76% gestyg, het mnr. Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), by ’n mediadag in Pretoria gesê.

“Die marge tussen die produsente- en die verbruikersprys styg teen ’n tempo wat duidelik wys hoe die konsentrasie in die waardeketting die primêre suiwelbedryf in gevaar stel en grens aan uitbuiting van die verbruiker,” sê hy.

“Die vraag is of dié kommerwekkende neiging gedryf word deur druk vanaf aandeelhouers op kleinhandelaars en verwerkers om maksimum dividende te realiseer, of deur groot ondoeltreffendhede laer af in die waardeketting,” sê Van Heerden.

Markkrag

Volgens hom is die markkrag in die suiwelbedryf in die hande van groot kleinhandelaars en verwerkers.

Dit bedreig onder meer werkgeleenthede in die primêre bedryf, maak dit moeiliker vir boere om finansiering te bekom en vir nuwe toetreders tot die bedryf.

Van Heerden sê rolspelers stroomaf in die waardeketting het meer en beter inligting, wat die mark se werking benadeel en boere uitgelewer laat om in ’n transaksie te aanvaar wat aan hulle gebied word.

Die MPO het die Nasionale Landboubemarkingsraad genader om moontlike gesprekke tussen die MPO en die Mededingingskommissie te fasiliteer.

Produksie stagneer

Die plaashekprys het ná hoë produksiegroei in 2018 met 4,8% gedaal, wat soortgelyk is aan die skerp daling in plaashekpryse in 2016 ná produksiegroei van 6,4% in 2015. (Sien GRAFIEK met die indekse van plaashekpryse, verwerkers se produsentepryse, en rakpryse.)

Die melk-tot-voerprysverhouding het in Mei 2019 onder 1:1,4 gedaal en is tans onder 1:1,2, wat dit vir boere moeilik maak om winsgewend te wees.

Die gemiddelde plaashekprys was in Desember 2019 rondom R4,30/liter, soortgelyk aan Desember 2015 se prys. Die gevolg van boere se kostedruk kan in die produksie van onverwerkte melk gesien word. Produksie vir 2019 as geheel was slegs 0,23% hoër as in 2018, terwyl produksie in Desember 2019 1,5% laer was as in Desember 2018.

Hoop vir 2020

Van Heerden sê dié lae groei is ’n gunstige teken dat boere se produsentepryse dalk vroeg vanjaar kan styg.

Die vooruitsigte vir laer graanpryse lyk ook goed, met die geelmieliepryse vir lewering in Julie 2020 wat op 3 Februarie 2020 onder R2 500/ton was.

Die prys vir soja vir lewering in Julie 2020 was egter steeds bo R5 900/ton.

Van Heerden sê egter daar is 'n moontlike “ 'n vlieg of twee in die salf” wat beter plaashekpryse kan belemmer. Een hiervan is Suid-Afrika se swak ekonomiese groei wat verbruikers se besteebare inkomste onder druk plaas.

Die land se ekonomie groei met minder as 1%, teenoor ander ontwikkelende ekonomieë wat rondom 4% groei.

Van Heerden het gesê syfers toon die invloed van hoër rakpryse op verkope. Langlewemelk het in September 2019 13,8% meer gekos het as in September 2018, terwyl verkope 9,3% laer was.

Gegeurde melk se rakprys was in dié tyd 9% hoër as 'n jaar gelede en verkope 6,2% laer.

? Verdere risiko wat plaashekpryse kan belemmer, is die moontlike effek van die koronavirus op wêreldhandel. China, een van die wêreld se grootste kopers op die internasionale mark, is besig om van die buitewêreld te onttrek. Dit sal die vraag na 'n verskeidenheid produkte beïnvloed, suiwelprodukte ingesluit. Indien die uitvoervloei na China onderbreek word, sal dié produkte in ander markte beland wat die internasionale pryse van suiwelprodukte sal afdruk.