Dié projek, een van Eduard (84) se laaste baanbrekersprojekte wat op 25 Maart bekend gestel word, sal die groep se verwerkingsaanleg in staat stel om deur die dag sonkrag vir al die verwerking van melk te gebruik.

Eduard het die klein melkery wat hy en sy pa, Jacob Elisa De Villiers Loubser, in 1955 op die plaas Welgegund begin het, tot die Fair Cape-groep ontwikkel. Hy is op 15 Januarie aan Covid-19-verwante oorsake dood nadat hy skielik baie siek geword het en drie dae in die hospitaal was.

“My pa was baie ingestel op die omgewing,” vertel Melt. “Hy het ’n baie groot ondersteunende rol in die projek gespeel. Hy het nou die dag saam met my na die vordering van die projek gekyk en vir my gesê hy kan nie glo hy is 84 nie. Wat gaan hy doen as hy doodgaan en alles mis?“Ek het vir hom gesê hy is nog so gesond, ek is seker hy sal nog 15 jaar lewe.”

Eduard was nie net ’n melkboer nie, maar ook ’n gerekende koring- en wynboer. “Hy het in sy jong dae begin om wingerde te plant op Welgegund hoewel die gebied nie bekend was om wingerdboerdery nie. Hy het daardie tipe van entrepreneurskap altyd aan die dag gelê.”

Nadat die landbousektor in 1995 gedereguleer is, het hulle die kans benut om tot die waardeketting toe te tree. Die Fair Cape-groep is gestig met die oprig van ’n klein verwerkingsaanleg wat hulle in staat sou stel om die melk wat op Welgegund gelewer word, self te verwerk en te bemark.

“Die groep is toe opgebou met harde werk en toewyding. Dit is nie altyd moontlik om aan iemand te verduidelik wat dit uit ’n mens tap om so ’n ding volhoubaar staan te maak nie. Vandag is Fair Cape ’n maatskappy wat aan omtrent 1 500 mense werk verskaf,” vertel Melt.

Van 1997 was Eduard nie meer aktief betrokke by die bestuur van Fair Cape nie, maar hy was steeds as strateeg betrokke. “Hy het die agterhoede gedek. Hy het altyd seker gemaak dat die ouens voor trek en die ander volg.

“My pa se funksie as ’n senior persoon in die groep het hy op ’n baie besonderse manier vervul omdat hy dit subtiel gedoen het met wysheid en advies. Hy het altyd vir almal tyd gehad en die hele maatskappy het later my pa as ’n vaderfiguur gesien.”

Wat ook besonders was van sy pa, was sy ontsaglike dissipline, sê Melt. “Selfs op sy ouderdom, tot die gimnasiums weens die inperking toegemaak het, was hy elke oggend in die gimnasium. Hy het elke mens daar geken. Hy het altyd vir my gesê ’n mens kan oud word, maar jy moet lééf om oud te word.

“Vanweë sy liggaamlike toestand en helderheid van verstand was hy elke dag om 05:00 in die gimnasium en om 07:30 op die plaas. Hy het in 1997 in Bloubergstrand gaan aftree en daarna was dit sy lewe.

“Die gevolg is dat ons eintlik miskien tot ’n mate gedink het hy is onsterflik, want hy het so ’n groot teenwoordigheid gehad. Toe die kreefseisoen oopmaak, het hy nog saam met die kleinkinders gaan kreef trek. Hy was om 07:00 saam met hulle by die water dan het hy vir hulle met sy kierie gewys waar hulle moet duik.

“Toe hy binne drie dae oorlede is, het ons almal verslae gestaan.”

Melt sê sy pa was ’n dinamiese man wat nooit sy sukses aan die groot klok gehang het nie. “Hy was op die agtergrond suksesvol. Deur sy besighede en die manier hoe hy mense kon bestuur en lei, het hy dit reggekry om ’n suksesvolle besigheid saam met sy seuns staan te maak.”

Melt sê die sukses waarmee sy pa die besigheid saam met sy seuns, Viljee, Melt, Johannes, Louis en Eduard, kon bedryf, is te danke aan die eensgesindheid waarmee hulle dit aangepak het. “Dit was vir hom inspirerend en daarom wou hy nooit enigiets misloop nie. Daarom wou hy nie die voltooiing van die sonkragprojek en ons verskeie ander projekte misloop nie.”

Eduard word deur sy vrou, Eline, vyf seuns , sy skoondogters, 14 kleinkinders en een agterkleinkind oorleef. ’n Troosdiens word môre vir hom gehou. Die diens sal om 09:40 op die Fair Cape-groep se Facebookblad uitgesaai word weens die beperking op die aantal mense wat ’n begrafnis mag bywoon.