Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het op ’n paneelbespreking van Absa Besigheidsbankdienste oor die begroting gesê die klem van die begroting moet van welsynsbystand af na welvaartskepping skuif. Terwyl R1,2 biljoen aan welsyn gaan, is ’n skamele R207 miljard bestem vir ekonomiese infrastruktuur, industrialisasie, innovering, wetenskap en landbou-ontwikkeling. Hy het gevra of die regering werklik ernstig kan wees oor ekonomiese groei as net R27,4 miljard vir die landbou bestem is.

“Hoewel ons verstaan dat daar tydens die pandemie maatskaplik ingegryp moet word, moet alles moontlik gedoen word om die ekonomie te bevry, beleidstruikelblokke uit die weg te ruim en teenstrydige ideologiese uitsprake te beëindig.”

Prof. Ferdi Meyer, besturende direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), het gesê hoewel op ván die kritieke kwessies gekonsentreer is waaroor altyd gepraat word, hang alles af van die toepassing.

Hy het gesê ’n praktiese voorbeeld is die geïntegreerde sojaboonwaardeketting en die pluimvee-meesterplan. Daar is belê in meer as 2 miljoen ton se verwerkingsgeriewe vir sojabone en teen ’n 80%-produksievermoë kan maklik 1,8 miljoen ton verwerk word. Suid-Afrika voer sowat 400 000 ton oliekoek in, maar die invoer word nou baie verminder namate sojaboonproduksie verbeter. Vanjaar kan die oes 1,65 miljoen ton haal.

“Die groot probleem lê daarin dat sowat 30% van die oliekoek in kusgebiede benodig word en die vervoerkoste van die parsaanlegte af na die kusgebiede is duurder as om oliekoek van Argentinië af na die kusgebiede in te voer. Daarom is daar steeds nie ’n mededingende voordeel nie. Sowat 70% tot 80% van die plaaslike graan en ander produkte word teen hoë koste padlangs vervoer.”

Hy het gesê in sulke gevalle moet die private sektor en die regering ten nouste saamwerk om toegespitste oplossings te vind. Dit verg ’n sakebenadering van die regering in die uitvoering van begrotingsdoelwitte.

Moeilikste begroting sedert 1994

Die landbousakekamer Agbiz, wat dit as die moeilikste begroting sedert 1994 bestempel het, het gesê in die lig van die groot beperkinge was dit die billikste balans tussen die stimulering van ekonomiese groei en konsolidering van die fiskale raamwerk.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof, het gesê dit was ’n eerlike weergawe van die moeilike posisie waarin Suid-Afrika hom bevind.

“Om teen 2025-’26 staatskuld te stabiliseer op 88,9% van die bruto binnelandse produk en terselfdertyd ’n surplus op die begroting te bewerk, is ambisieus, maar dit moet bereik word om ’n volhoubare fiskale raamwerk vir die land te verseker.”

Hy het die hulp aan die Land Bank en die hernude klem op onafgehandelde restitusie-eise verwelkom, maar die planne om skielik 10 000 ervare voorligtingsbeamptes te werf, bevraagteken.