Wat dit nog meer besonders maak, is dat albei inskrywings van die boutiekkaasmakery Belnori van Bapsfontein in Gauteng is.

Die eienaars van Belnori, mnr. Norman Belcher en sy vrou, Rina, is bekendes in die plaaslike kaasbedryf. Hulle boer met Saanenmelkbokke en melkskape. Belnori maak ook kaas van koeimelk wat hulle inkoop.

Die twee supergoue pryse is vir Kilembe (’n harde bokkaas) en Kalabash (’n harde koeimelkkaas). Kilembe is boonop as die 12de beste kaas ter wêreld aangewys en tel nou onder vanjaar se top 16-kase ter wêreld.

“Ons het die beoordeling via ’n regstreekse internetuitsending dopgehou. Die sein op die plaas kom en gaan maar, maar net op die regte oomblik het die uitsending sonder steurings duidelik deurgekom. Dit was ’n onwerklike gevoel, want sekondes later het ons Belnori se naam gesien met Kilembe onder die supergoue wenners. Dit was ’n dubbele verrassing toe Kalabash later die dag ook dié eerbewys ontvang het,” sê die Belchers, wat ook ’n silwer en twee brons pryse ontvang het.

Die egpaar is afgetree en het bokmelkkaas as ’n stokperdjie begin maak. Hulle het op dieselfde dag as die beoordeling ook hul 50ste huweliksherdenking gevier.

Wenkaas

Die wenkaas in die kompetisie is Fanaost, ’n beleë cheddar van die Noorweegse kaasmaker Ostergården, wat die melk van ’n kuddetjie van net 12 koeie gebruik.

Vanjaar se internasionale kaaskompetisie is vir die 31ste keer aangebied en het 3 472 inskrywings gelok. Inskrywings is deur 235 fynproewers van 30 verskillende lande beoordeel. Uit hierdie kase het net 78 kase in aanmerking gekom vir supergoue status. Uit dié 78 is die wêreld se 16 beste kase aangewys deur ’n paneel van 16 internasionaal erkende kaaskenners.

Ander SA wenners

Die ander Suid-Afrikaanse kaasmakers wat pryse ontvang het, is:

·         Meze Foods: een goud, twee silwer en twee brons.

·         Fairview (vir Woolworths): een goud, een silwer en twee brons.

·         Parmalat: een goud en een brons.

·         Lancewood: een goud.

·         Klein River: twee silwer en een brons.

·         La Mont: een brons.

Die volledige uitslae is hier te sien.  

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.