Dr. Gideon Groenewald, ’n hidroloog met sowat 35 jaar ondervinding, sê Gift of the Givers het die projek onderneem om dié gemeenskap van ondergang te red. Hy sê hulle het sowat ses maande lank daaraan beplan en voorleggings aan die organisasie en moontlike skenkers voorgelê om aan te dui dat hierdie ’n natuurkrisis is. “Dit is ’n krisis. Sonder die boorgate sal mense hul plase moet verlaat omdat al hul vee sal vrek en hulle nie kan voortgaan nie. Almal weet tog jy kan nie ’n boerdery bedryf sonder water nie.”

Altesaam 40 000 liter diesel is op die dorp afgelaai vir die boorproses. Die organisasie het verlede week aangekondig dat die eerste boorgat van dié projek, waarvoor R15 miljoen bewillig is, gesink is.

Groenewald sê die droogte se impak op die omgewing is erger as wat hulle vermoed het. “Ons het beoog dat die boorgate 40 m diep geboor moes word. Ons boor nou in baie gevalle tot op 80 m voordat ons bruikbare water vir die boer tref. Dit beteken ons koste gaan dubbeld wees as wat ons begroot het.”

Drie bore en boorspanne

Drie bore en boorspanne werk daagliks, en drie boorgate word elke twee dae gesink. “Ek haal my hoed vir die boorspanne af. Hulle begin soggens om 04:30 en hou nie op voordat die boorgate klaar geboor is nie, al is dit ná middernag.”

“Dit is ’n besonder moeilike projek,” sê Groenewald. Die diepte van die boorgate is nie die enigste probleem nie. Sake word verder bemoeilik deur die feit dat die spanne versigtig moet wees wanneer hulle wel vlakker water tref omdat daar op plekke lae vulkaniese grond lê, wat die water op daardie vlakke suur maak sodat dit nie geskik is vir gebruik deur mense en diere nie. “Ons is wel dankbaar dat ons tot dusver 10 suksesse vir elke 11 pogings het.”

Mnr. Martyn Landman, die boorkontrakteur, se span is opgewonde oor elke borgat wat geboor word. Hierdie is een van die gate wat die week water opgelewer het. 

Steeds in droogtesiklus

Groenewald sê die droogte in die Noord-Kaap gaan nie binnekort iets van die verlede wees nie. “Dit sal by Sutherland byvoorbeeld 800 mm moet reën om die grondwatervlakke behoorlik aan te vul. Dít is drie jaar se reënval hier. Die omgewing kort ’n ordentlike nat weersiklus, en tans is ons in ’n droogtesiklus van 20 jaar.”

Volgens Groenewald is dit noodsaaklik dat hulle klaar geboor moet wees voordat die somer begin. “Hierdie omgewing is een van Suid-Afrika se grootste bronne van goeie wol en skaapvleis. Dit sal ’n tragedie wees as die teelmateriaal wat oor baie geslagte heen geteel is, verlore moet gaan. Tans is hier boere wat hul diere voer tot op ’n sekere gewig, en dan laat slag om die dier te red van dors en hongersnood.”

Me. Hester Obermeyer, skakelbeampte van die Sutherland-droogtekomitee, sê meer as 40 ton mielies en bale voer, wat die komitee gekoop het, is verlede week op die dorp afgelaai. Gift of the Givers het ook 300 kospakkies, 300 komberse, 20 000 liter drinkwater en 12 sakke mineraal- en vitamienaanvullings vir die plaaslike gemeenskap afgelewer. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.