Van die riviere en spruite in die oostelike deel van dié distrik is in vloed, sê me. Sybil Visagie, ’n boervrou van die distrik en koördineerder van die Save the Sheep-projek.

Hierdie groot verskille in reënval in een distrik is tekenend van droogtetoestande, sê mnr. Edward Engelbrecht, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens. Die plase met die groot metings is op die pad tussen Fraserburg en Sutherland, met metings van 3 mm en 11 mm wat nader aan Fraserburg aangemeld is, sê me. Hester Obermeyer, Gift of the Givers se koördineerder vir veevoer in die Wes- en Oos-Kaap.

Reënmetings soos wat boere dit by Agri Noord-Kaap aangemeld het. Kaart: Agri Noord-Kaap
Phisantrivier Sutherland,
Die Phisantrivier is in vloed by Sutherland na sowat 160mm se reën oor dele van die Nuweveldberge uitgesak het. Foto: Ockie Muller
Phisantrivier Sutherland,
Die Phisantrivier is in vloed by Sutherland na sowat 160mm se reën oor dele van die Nuweveldberge uitgesak het. Foto: Ockie Muller
Phisantrivier Sutherland,
Die Phisantrivier is in vloed by Sutherland na sowat 160mm se reën oor dele van die Nuweveldberge uitgesak het. Foto: Ockie Muller

Volgens Engelbrecht word nog reën vandag oor die oostelike dele van Noordwes, dele van die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap verwag. Die laagdrukstelsel wat sedert verlede week reënval oor groot dele van die land gebring het, sal môre opklaar. “Weermodelle dui nie swaar reën oor die land vir die volgende sewe dae aan nie. Sonnige toestande word merendeels verwag,” sê Engelbrecht. 

Hoop vir somersaaiboere

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê die metings oor die somersaaigebiede wissel van sowat 30 mm tot 120 mm.

Van die boere in die Springbokvlakte in Limpopo het nie goeie metings aangeteken nie, met neerslae wat van 2 mm tot 20 mm wissel. “Van die boodskappe wat ons al uit dié omgewing gekry het, is dat van dié boere al water begin aanry vir huishoudelike gebruik,” sê De Villiers.

Van die boere in die ooste van die land het reeds verlede week sojabone en van hul mielies begin stroop. De Villiers sê hoewel die nat toestande die stroopproses vertraag, is die boere baie dankbaar oor die reën. “Vir die laat mielies sal hierdie neerslae waardevol wees.”

Die goeie neerslae het veral hoop gebring vir boere in distrikte soos Hoopstad en Bultfontein wat nie somergesaaides kon plant nie. By Hoopstad is meer as 50 mm op plekke gemeet, met metings vir die naweek wat by Bultfontein tot 120 mm was. “Ons verwag om ’n styging te sien in die aanplantings van koring in die winter, veral in dié gebiede waar hulle jare laas genoeg vog gehad het om koring te kon aanplant.” De Villiers sê daar is nog baie ruimte vir lewering in die koringmark, veral omdat Graan SA se omdraaistrategie vir die koringbedryf resultate begin oplewer.

Swaar neerslae is die afgelope paar dae in KwaZulu-Natal aangemeld, met metings van tot 315 mm wat by Paddock aangemeld is, berig eNCA Weather.

Nog geen erge skade aan gewasse is by Graan SA aangemeld nie. “Baie boere kon nog nie in hulle landerye kom nie,” sê De Villiers.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.