Me. Hester Obermeyer, skakelbeampte van die Sutherland-droogtekomitee, sê 200 boorgate in die distrik het opgedroog weens die rampdroogte. Gift of the Givers het besluit om op groot skaal in te gryp om die gemeenskap van ondergang te help red.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, sê luidens ’n verklaring die proses vir die sink van die boorgate sal deur dr. Gideon Groenewald, ’n hidroloog met 35 jaar se ervaring, en mnr. Martyn Landman, ’n boorkontrakteur, en hul span gedoen word. Obermeyer sê in sommige gevalle word bestaande boorgate dieper geboor, terwyl Groenewald aangedui het dat ander boorgate naby bestaande, maar opgedroogde gate, gesink sal moet word.

40 000 liter diesel en 200 bale voer

Gift of the Givers het betaal vir die 40 000 liter brandstof wat benodig sal word vir die boorproses. Mnre. Herman en Marius Brelage van Volksrust het die diesel teen kosprys aan die liefdadigheidsorganisasie verskaf. Die totale proses sal Gift of the Givers sowat R15 miljoen kos.

Boere het dieseltenks na die plaas Aandblom gebring waar die dieselskenking vir die sink van die boorgate aflewer is. Foto: Sybrand Burger
Boere het dieseltenks na die plaas Aandblom gebring waar die dieselskenking vir die sink van die boorgate aflewer is. Foto: Sybrand Burger
Boere het dieseltenks na die plaas Aandblom gebring waar die dieselskenking vir die sink van die boorgate aflewer is. Foto: Sybrand Burger
Water spuit uit die eerste boorgat wat vir Gift of the Givers se projek op Sutherland geboor is. Foto: Willie de Lange

Die eerste 200 bale voer wat boere van Noordwes geskenk het, is ook Maandag afgelaai. Sooliman sê nog vragmotors sal later die week meer voer op die dorp aflewer. Verder sal kospakkies, komberse, pakkies met toiletware en warm klere ook later die week vir plaaswerkers, skoolkinders en ander lede van die gemeenskap afgelaai word. Sowat 5 000 maaltye sal ook verskaf word.

Trane van vreugde

“Ons het vandag trane van vreugde gehuil,” sê Obermeyer. Ons voel baie nederig en baie klein en besef dat hier vandag geskiedenis gemaak is in ons dorpie. Wat ’n Godsverrykende gebeurtenis dat Gift of the Givers Suid-Afrika gemobiliseer het om die Karooboere te red.”

Sy het ’n video wat Groenewald opgeneem het van die oomblik toe water uit die eerste boorgat gespuit het, op Save the Sheep se Facebookblad geplaas. 

Obermeyer sê die komitee het Vrydag, 8 Junie, gehoor die diesel sou Maandag afgelewer word. “Die boere het saamgestaan en dieseltenks van hul plase af aangery na die plaas Aandblom toe, waar die diesel afgelewer is.” Die plaas is sowat 3 km buite die dorp geleë. Al die droogtevoer wat na die gemeenskap kom, word op die plaas afgelaai. Mnr. Datie Esterhuyse, die eienaar, het goedgunstiglik aangebied dat voerbale en ander skenkings teen geen koste op die plaas afgelaai en opgeberg kan word. Esterhuyse behartig ook die laaiwerk van die bale en dromme melasse wat afgelewer word.

Mnr. Datie Esterhuyse besig om geskenkte bale voer af te laai. Foto: Hester Obermeyer

Mense wat Gift of the Givers se inisiatiewe wil steun, kan meer inligting kry deur ’n e-pos te stuur aan donations@giftofthegivers.org of die tolvrye nommer 0800786911 te skakel.

Om Sutherland se droogtekomitee en die Save the Sheep-projek te steun, kan skenkings inbetaal word by

Isabella Visagie/Save the Sheep

Standard Bank

Takkode:  051001

Rek no: 146777549

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.