Nee-nee, dié bekende Japanse voertuigvervaardiger is nie na die maan soos in bokveld toe nie… inteendeel die volgende maanvoertuig kan dalk net ’n Suzuki wees!

Dit is nou as die Japanse spanpoging van Hukato, Ispace Technologies en Suzuki daarin slaag om weg te stap met Google se Lunar XPRIZE. Die Lunar XPRIZE, wat ook Moon 2.0 heet, wil die eerste private gefinansierde ekspedisiespan maan toe stuur.

Suzuki_maantuig_verskaf

Die Suzuki XPRIZE. Foto: Verskaf

Die Lunar XPRIZE van $20 miljoen sal toegeken word aan die span wat suksesvol ’n tipe voertuig op die maanoppervlakte kan land wat ten minste 500 meter ver kan ry terwyl hoëresolusiefoto’s vanaf dié voertuigplatform geneem word.

Hoewel die spertyd vir die projek eers op 31 Desember 2017 is, moet deelnemende spanne hulle ruimntereise reeds vóór die einde van 2016 bespreek om in aanmerking te kom. Hukato het Ispace Technologies betrek vir die maatskappy se kennis en ontwikkelingsvermoë van mikro-robotte spesifiek vir ruimteverkenning.

Suzuki is op sy beurt betrokke by die ontwerp en ontwikkeling van ’n voertuig wat die klipperige en poeieragtige maanoppervlakte kan baasraak teen sowat een-sesde van die aantrekkingskrag van die aarde.

Volgens Hukato geniet Suzuki wêrelderkenning vir sy kompakte en manuvreerbare voertuie waarvan sommige met vierwielaandrywing topegerus is. Die Hukato-span se huidige ontwerp heet Pre-Flight Model 3 en dit spog glo met sonpanele vir energie-opwekking, 360 grade hoëdefinisiekameras, ’n koolstofveselbakwerk en spesialis-wiele wat vir optimale vastrap ontwerp is.

En dit alles laat ’n mens nou wonder of Suzuki se huidige Jimny nie sommer die maan-ding vir die Hukato-span sal kan doen nie… ek meen, op Suid-Afrikaanse bodem sit dié ratse klein Jimny sommer vir menige hardebaard-4X4’s ore aan as dinge nou regtig rof raak!