Mnr. Wayne Venter, weervoorspeller, sê weermodelle dui aan dat die kans op verdere wydverspreide reën die week van Woensdag af verswak.

Dié swaar neerslae volg nadat swaar reën die naweek oor dele van Gauteng uitgesak het. Dit het tot oorstromings op plekke gelei het.

Reën het einde verlede week ook oor dele van die Karoo voorgekom. Video’s en foto’s van water wat in die Nqwebadam by Graaff-Reinet ingevloei het nadat reën Vrydag in die gebied voorgekom het, is die naweek wyd op sosiale media aangestuur. Die dam het verlede jaar opgedroog.

Volgens die Graaff-Reinet Advertiser se Facebookblad het die plaaslike munisipaliteit Dr. Beyers Naudé gisteroggend aangedui dat die dam se vlak op 5,26% was.

Reën en stormskade op onder meer Nieu-Bethesda en De Aar is die naweek op die groep Reënval in SA op Facebook aangemeld.

Groot dele van die Karoo en die Noord-Kaap het egter steeds nie goeie reën gehad nie.

Venter sê op dié stadium word slegs enkele buie tot die einde van die week oor die sentrale en oostelike dele van die land verwag.

Die kans op reën later die week is tans sowat 30%, sê Venter. “Enkele donderbuie kan oor Gauteng, die Hoëveld van Mpumalanga, die Vrystaat, Noordwes en die oostelike dele van die Noord-Kaap voorkom. Reën is ook moontlik oor die kusgebiede van die Suid-Kaap en Oos-Kaap en die aangrensende binneland.”