Dié swaar neerslae kan veral koringboere wat stroop baie benadeel, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Wat die somerreëngebied betref, verbeter die kans vir 20 mm of meer reën van Vrydag af oor die sentrale tot noordelike dele van die land. Van den Berg sê dit sluit in Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, die westelike dele van Mpumalanga, die noordwestelike dele van die Oos-Kaap en suidelike dele van Limpopo.

Baie min of geen reën en baie warm toestande kan van 23 tot 28 November voorkom. Van 29 November af verbeter die kans vir reën weer oor die sentrale tot oostelike binneland met redelike swaar neerslae wat verwag word.

Dan is daar byna elke dag ’n kans vir reën oor die sentrale tot oostelike dele van die land tot ongeveer 13 Desember. Slegs enkele buie word verwag oor die Noord-Kaap en westelike dele van Noordwes tot middel Desember, waarna toestande vir dié gebiede verbeter.

Waarskuwings en aanbevelings

Van den Berg sê volgende week kan die beste tyd wees om lusern te sny en te baal in veral die oostelike en sentrale dele. Daar is ’n groot risiko vir reënskade vanaf veral 29 November.

Verder kan reën oor die sentrale tot oostelike dele van die somergraangebied in die eerste deel van Desember opgevolg word deur moontlike swaarder reën in die tweede deel van Desember. Dit kan aanplantings in die sentrale tot westelike dele vertraag.

Van den Berg sê die afgelope week het noemenswaardige reën aan die Ooskus voorgekom, met Margate en Durban wat tot 100 mm gehad het, terwyl die sentrale en westelike dele van KwaZulu-Natal sowat 50 mm gehad het, veral op plekke soos Ladysmith en Van Reenen.

Enkele ligte buie het ook voorgekom oor die binneland so ver as die oostelike dele van die Noord-Kaap. Baie droë en warm toestande duur egter voort oor die westelike binneland.

Die min reën is egter verwelkom deur somergraanboere in die oostelike produksiegebiede wat die grootste deel van hul aanplantings rondom die optimale plantdatums kon afhandel.

Baie boere het ook in die westelike somergraanproduksiegebiede begin plant, maar hulle het eers opgehou weens die droë en warm toestande. Die gebiede kan wel oor nog vier tot ses weke somergrane aanplant. Primêre bewerkings is meestal voltooi. Aanplantings kan daarom vinnig vorder sodra grondwatervlakke voldoende aangevul is.

Tafeldruifboere in die Noord-Kaap het begin om vroeë druiwekultivars te oes en daar word asem opgehou dat reën nie skade gaan veroorsaak nie, sê Van den Berg.

La Niña en internasionale weer

Die La Niña-verskynsel is steeds op koers om homself as ’n matige tot sterk La Niña te vestig vir die res van die somer. DIt behoort rondom Desember of Januarie ’n hoogtepunt te bereik. Van den Berg sê die Indiese Oseaan-dipool (IOD), wat ook reënval beïnvloed, het effens teruggesak en is nou baie naby aan neutraal.

Intussen het ernstige oorstromings sedert begin November oor die Filippyne en Indonesië in Suidoos-Asië voorgekom, terwyl gedeeltes van Somalië, Uganda, Zimbabwe en die Kongo baie swaar reën gehad. Mexiko, Brasilië, Colombia en selfs gedeeltes van Noord-Carolina in Amerika het oorstromings ervaar.

Op 9 November is 242 mm reën by Napier op die Noordeiland van Nieu-Seeland gemeet. Dit is die tweede meeste wat dié land nog op een dag aangeteken het. Die meeste van die gebeure kan toegeskryf word aan La Niña, behalwe in Mexiko waar sikloon Eta die gebied getref het, asook Noord-Carolina in Amerika, sê Van den Berg.