Die Valke in Noordwes word geprys vir die werk wat hy gedoen het om seker te maak dat ’n veedief en bedrieër aan die pen ry. Mnr. Daniel Smit (49) het Vrydag, 9 Februarie, sy vonnis begin uitdien.

Smit is op 13 Desember 2017 in die Hooggeregshof in Mmabatho skuldig bevind aan bedrog van R6 miljoen met veetransaksies. Hy het boere by Sannieshof, Coligny en Lichtenburg bedrieg deur vee by hulle aan te koop wat hy met vervalsde tjeks betaal het.

Tydens sy vonnisoplegging is gesê dat sy vonnis tot vyf jaar verminder sal word mits hy die R6 miljoen teen Januarie vanjaar aan die boere terugbetaal. Die geld is nie terugbetaal nie.   

Dankbaar vir erns met sake

Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê hulle is dankbaar vir die swaar vonnisse wat vir veediefstal en verwante sake opgelê word. Dit is die tweede veediefstalsaak in die afgelope drie maande waarvoor ’n vonnis van 10 jaar opgelê is.

Op 30 Januarie is ’n veespekulant en drie ander veediewe vonnisse van onderskeidelik 10 jaar, agt jaar en vyf jaar opgelê in die Kroonstadse streekhof opgelê. Die vonnisse het verband gehou met verskeie sake van veediefstal in dié omgewing.

“Ons is baie dankbaar dat dit lyk of veediefstalsake ernstig opgeneem word. Ons kry die algemene indruk dat vonnisse in dié verband strenger word,” aldus Clack.