Navorsers skryf die voortgesette styging in eierpryse en die daling in die prys van beesmaalvleis onder meer aan veranderinge in vraag toe.

In die tipiese voedselmandjie van arm Suid-Afrikaners het die gemiddelde rakpryse van eiers, tamaties en rys van Mei tot Junie vanjaar die meeste gestyg, naamlik met onderskeidelik 33,4%, 29,4% en 11%.

Die syfers is vervat in die jongste maandelikse verslag van navorsers van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), die Nasionale Landboubemarkingsraad, die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en die Universiteit van Pretoria oor die prysbewegings van 15 produkte waarop arm verbruikers die grootste deel van hul voedselbegroting bestee.

Koekmeel se gemiddelde prys het met 9,1% gestyg, wit brood met 3,3% en langlewemelk met 3,1%.

Die navorsers sê die vraag na eiers is sterk omdat dit een van die bekostigbaarste bronne van diereproteïen is. Die stewige vraag het dit moontlik gemaak het om produsente se voorheen langdurige kostedruk na winkelpryse toe deur te gee.

“Die beduidende stygings in die pryse van rys en koekmeel kan hoofsaaklik aan die sloerende gevolg van aansienlike wisselkoersverswakking sedert begin vanjaar toegeskryf word.”

Albei produkte het sterk bande met die internasionale mark en dit duur tipies ses weke tot drie maande vir sulke skokke om in plaaslike voedselpryse weerspieël te word.

Die goeie vraag na groente in wintermaande, asook beperkte volume op markte het tot die stewige tamatiepryse gelei.

Luidens die verslag lyk dit asof die pryse van kitsbevrore hoenderstukke marginaal gestyg het, nadat dit in April weens die sluiting van die gasvryheidsbedryf gedaal het.

In teenstelling met verwagtinge rondom die heropening van restaurante en kitskosrestaurent het die pryse van uie, aartappels en beesmaalvleis van Mei tot Junie gedaal.

Die navorsers sê dit kan tyd kos vir voldoende vraag uit die gasvryheidsbedryf om in varsprodukpryse weerspieël te word.

Ekonomiese ontberinge

Die prys van beesmaalvleis het met 15,3% gedaal.

Die navorsers sê dit blyk in Junie ’n neiging vir die meeste beesvleissnitte te gewees het, wat daarop kan dui dat die vraag na onder druk is. Dié pryse is gewoonlik in die winter onder druk, maar die gevolge van Covid-19 en die gepaardgaande inperking het tot beduidende druk bygedra.

“Gegewe die huidige en verwagte ekonomiese ontberinge van verbruikers is dit nie ’n verrassing nie. Na verwagting sal verbruikers toenemend begrotingsbewus raak en na meer bekostigbare opsies vir diereproteïen skuif. Dit sal op kort en mediumtermyn afwaartse druk op beesvleispryse plaas.”

Statistieke Suid-Afrika se syfers wys dat die jaarlikse inflasiekoers in Mei vanjaar 4,4% was en in Junie tot 4,2% gedaal het.

’n Koronavirus-verwante opname wat in Mei en Junie onder 10 000 Suid-Afrikaners gedoen is, toon dat 47% se geld vir kos in April opgeraak het, teenoor 21% in Statistieke Suid-Afrika se algemene huishoudelike opname in 2018.