Die hoeveelheid ingevoerde kitsbevrore hoenderstukke aan die been, die grootste invoerkategorieë, was in April 2020 27,1% laer as in April 2019.

In die eerste vier maande van vanjaar is 4,9% minder van dié snitte ingevoer as in die ooreenstemmende tydperk in 2019.

Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) se braaihoenderorganisasie, sê die rand was, weens die Covid-19-inperking, einde April 2020 op R18,53 teen die Amerikaanse dollar baie swakker as die R14,38 van April 2019.

Voorts het internasionale hoenderpryse sedert verlede jaar begin styg, omdat China ’n tekort aan diereproteïen beleef ná die uitbreking van Afrika-varkpes en voëlgriep.

Brasilië, ’n baie groot hoenderuitvoerland, is nou die hoofverskaffer van hoendervleis aan China. Baie van Suid-Afrika se ingevoerde hoendervleis kom uit Brasilië en die Brasiliaanse real het ook teen die rand versterk.

Groter beskerming

Breitenbach sê die daling in invoer het ook ’n daling in Europese hoendervleis ingesluit, waarvoor die voorkeurinvoertariewe weens ’n vryhandelsooreenkoms nie geld nie.

Stukke aan die been uit die Europese Unie is wel aan ’n beveiligingstarief van 25% onderhewig.

Hoër tariewe op sekere snitte het op 13 Maart in werking getree, maar omdat dit minstens ses weke duur voordat ingevoerde hoendervleis per skip in Suid-Afrika aankom, meen Breitenbach dat die uitwerking hiervan eers in Mei-invoersyfers te sien sal wees.

Die tarief op stukke aan die been is van 37% tot 62% verhoog en op ontbeende stukke van 12% tot 42%.

Teenstortingstariewe geld op stukke aan die been uit Amerika, Duitsland, Brittanje en Nederland.

“Voorlopige studies deur die SAPV toon storting deur nóg vyf uitvoerlande. Dit kan net deur teenstortingstariewe teëgewerk word.”

Swak vraag

Breitenbach sê benewens die swak rand is invoer in die algemeen ook deur die daling in vraag in Suid-Afrika geraak, wat deur die Covid-19-inperkingsregulasies veroorsaak is.

“Die vraag het in vlak 5 met 17% gedaal. Sowat 20% van ons vraag kom van restaurante, kitsdiensrestaurante en die gasvryheidsbedryf, wat in dié vlak glad nie sake kon doen nie.

“Die vraag het egter ook in die klein- en groothandel gedaal, omdat verbruikers se bestedingsvermoë gekrimp het.

“In vlak 4 het kitsdiensrestaurante se gedeeltelike oopstelling effense verligting gebring, maar die vraag was steeds 13% laer as gewoonlik.

“In vlak 3 is die vraag, volgens berekeninge van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid sowat 7% laer.

“Die koue opbergingsplekke is vol. Verbruikers het óf nie geld verdien nie, of nie genoeg nie. Navorsing wys dat daar mense is wat sedert die inperking begin het, minder eet en gewig verloor en dat een uit ses mense honger gaan slaap.

“Die bedryf kry swaar en ’n mens kan dit sien in die genoteerde maatskappye se finansiële resultate en die kleinboere wat ophou boer het.

“Ek dink dit gaan lank duur vir die vraag om te herstel, want verbruikers het hul werk verloor en skuld gemaak.”

Breitenbach sê pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging op 17 Junie dat restaurante weer sake kan begin doen, wys die regering se erns om nou die ekonomie te red. “Dit gaan nie net vraag na hoendervleis stimuleer nie, maar gaan broodnodige werk in dié tyd van voedseltekort skep.”

Weens die huidige oorproduksie en die laer vraag verwag Breitenbach nie dat Suid-Afrika enigsins ’n tekort aan hoendervleis sal beleef nie.

“Ons hoendervoorsieningsketting is nie deur die inperking ontwrig nie. Alles werk, geen ondernemings het op produksie teruggesny nie, geen aanlegte is gesluit nie en produksie is op normale vlakke.”