Die verlaging van Suid-Afrika se kredietgradering kan die rand laat verswak, wat mielieboere en boere met uitvoerprodukte kan bevoordeel, maar terselfdertyd die koste van produksiemiddele sal opjaag.

Standard & Poor's het Suid-Afrika se gradering op 13 Junie met een kerf na BBB verlaag terwyl Fitch sy BBB-gradering behou het, maar die land se vooruitsigte van stabiel na negatief verander het.

'n Afgradering is slegte nuus, sê mnr. Dawie Maree, senior ekonoom van Agri SA. “Dit plaas 'n demper op die hele ekonomie. Dit verhoog onmiddellik die nasionale rentelas en plaas druk op die Nasionale Tesourie. Dit maak beleggers skrikkerig. Diegene wat klaar belê het, kan besluit om geld te onttrek terwyl diegene wat dit nog oorweeg het, daarteen kan besluit. Wanneer geld skielik uit die beurs onttrek word, verswak dit die wisselkoers.”

Maree sê 'n swakker rand kan vir mielieboere meer geld in die sak bring, maar terselfdertyd sal produksiemiddele soos kunsmis en brandstof duurder word. Vir melk- en vleisboere beteken duurder mielies duurder voer, dit terwyl daar danksy die rekord-oes vir dalende pryse gehoop word.

Mnr. Ian Cruickshanks, hoofekonoom van die Instituut vir Rassebetrekkinge, sê die afgradering is 'n erkenning dat Suid-Afrika se ekonomiese infrastruktuur nie gerat is vir groei en werkskepping nie. “Dit beteken die land word as sake-onvriendelik beskou, dat ons bo ons inkomste leef, en dat ons meer invoer as wat ons uitvoer.”

Beleggers word afgeskrik deur die onstabiele arbeidsomgewing en probleme met elektrisiteitsvoorsiening.

Cruickshanks sê pres. Jacob Zuma se staatsrede gee hom nie hoop dat die Regering iets gaan doen wat in die nabye toekoms beter kredietgraderings sal meebring nie. “Doeltreffendheid is wat ons nodig het. Maar in die landbou wil die Regering 1 miljoen werkgeleenthede skep. Waar gaan dit vandaan kom? Die Regering wil hê ons moet klein landbou-eenhede skep, terwyl groot boerdery-eenhede nodig is vir internasionale mededingendheid.”

Cruickshanks sê Standard & Poor's se nuwe gradering is net een kerf weg van die sogenaamde waardelose status waar beleggers hul rug op 'n land se staatseffekte draai uit vrees dat die land nie sy skuld sal kan diens nie.