Die boere is op vyf plase wat deur swart gemeenskappe besit word. Die plase word deur Amadlelo Agri, 'n swartbemagtigingslandbou-onderneming, bestuur.

Amadlelo Agri het FBCC en Coega verlede jaar gevra om die boere te help om hul eie melkkuddes te kan besit.

Mnr. Andrew Mundell, FBCC se bedryfshoof van ondernemingsontwikkeling, het in 'n verklaring gesê baie van die koeie op die plase word tans by kommersiële melkboere gehuur.

“Deur in die projek te belê, help ons die gemeenskapsboere om meer toegang, deelname en eienaarskap in die waardeketting te verkry.”

FBCC en Coega gaan elkeen R1,5 miljoen bydra en die geld sal oor 'n tydperk van drie jaar uitbetaal word.

Steun
Mnr. Victor Korsten, uitvoerende hoof van Coega Dairy, het gesê die nodige bedryfs-, tegniese en statutêre steun sal verskaf word om die volhoubaarheid en goeie bestuur van die projek te verseker.

Mundell sê die vyf plase lewer sowat 25% van FBCC se totale melkinname.

Die belegging sal daartoe bydra dat die aanbod van onverwerkte melk aan FBCC en Coega Dairy verseker word.

“Na verwagting sal die koeie en hul toekomstige nageslag meer as 10 miljoen liter oor 'n tydperk van vyf jaar lewer,” het Mundell gesê.

Coega Dairy is in 2011 danksy 'n vennootskap tussen bestaande kommersiële boere en voorheen benadeelde gemeenskappe gestig.

Dit koop melk by Oos-Kaapse boere en vervaardig langlewemelk en botter by sy aanleg in Port Elizabeth.

FBCC is in 2012 gestig toe Famous Brands 'n gesamentlike onderneming met Coega Dairy vir die verskaffing van kaasprodukte aan die groep aangegaan het.

Famous Brands besit 51% van FBCC en Coega Dairy 49%.

Melkboere besit 62% van Coega Dairy en die Coega-bemagtigingstrust 38%.

Die begunstigdes van die trust is die vyf gemeenskapsplase in swart besit (40%), werkers by die aanleg (40%) en plaaswerkers (20%).

Mundell sê Coega Dairy se inname van onverwerkte melk het die afgelope vyf jaar met 14% per jaar toegeneem, terwyl melkinname vir kaas by FBCC die afgelope vier jaar met meer as 20% gestyg het.