Reënval van 20 mm tot 30 mm is in dele van die Swartland aangemeld, terwyl dit in dele van die Overberg selfs meer as 50 mm gereën het. Inligting op Reënval in SA se Twitterblad het aangedui dat van 96 mm tot 100 mm reën op Ceres gemeet is. Volgens die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning is tot 110 mm reën verlede week en oor die naweek op Ceres gemeet.

Mnr. Andries Theron, voorsitter van Graan SA se wintergraanwerkgroep, sê van 20 mm tot 30 mm reën is teen Sondagoggend oor dele van die Swartland gemeet. Volgens hom is boere baie dankbaar vir die reën, veral aangesien die meeste wintergewasse tans in kritieke groeistadiums is.

“Ons kan die waarde van die reën wat geval het, nie in goud of geld meet nie,” sê ’n dankbare Theron.

Te laat vir dele van die Suid-Kaap

Mnr. Toit Wessels, assistentbestuurder van bemarking en Nampo by Graan SA, sê van 10 mm tot 20 mm reën is die naweek oor dele van die Suid-Kaap gemeet. Op plekke het reën Maandag steeds uitgesak.

Volgens Wessels het graanaanplantings tussen Heidelberg en Mosselbaai swaar getrek weens droogte die afgelope paar maande. Hy sê van die kanola- en garsaanplantings het goed gereageer op die reën, terwyl die koringaanplantings stadiger reageer. “Wat die vroeë aanplantings betref, is dit ongelukkig vir sommige boere reeds te laat. Hulle het al vee in die aanplantings begin injaag.”

Wessels sê in die Overberg is goeie reën in dele aangeteken, met tot 20 mm wat in die distrik Bredasdorp gemeet is.

Mnr. Kwagga Boucher, wingerdboukundige by Ataraxia Wyne, sê hulle het sowat 54 mm op die rand van die Hemel-en-Aardevallei gemeet.

Damvlakke

Die gemiddelde damvlakke in die Wes-Kaap het ná die reën tot 55% gestyg. Die damme wat water aan Kaapstad verskaf, is tans 62% vol. Op die ooreenstemmende tyd verlede jaar was die stad se damme 34% vol.

“Ons bly bekommerd oor dele van die Karoo. In die opvangsgebied van die Gouritsrivier is die gemiddelde damvlakke slegs 18%. Gebiede soos Beaufort-Wes en Oudtshoorn bly onder druk. Hierdie gebiede is wel hoofsaaklik lente- en somerreëngebiede en ons hoop dat goeie reën van Oktober in dié gebiede sal voorkom,” sê mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.

Die vlakke van die provinsie se grootste damme se vlakke is tans as volg:

Theewaterskloofdam – 45% (teenoor 26% in 2017 en 44% verlede week);

Voëlvleidam – 68% (teenoor 26% in 2017 en 65% verlede week);

Bergrivierdam – 93% (teenoor 54% in 2017 en 89% verlede week); en

Clanwilliamdam – 99% (teenoor 36% in 2017 en 99% verlede week).