Mnr. Maartin Gildenhuys van die plaas Goedemanskraal sê hy het van April af nog net 59 mm reën gehad. In ’n normale jaar verwag hulle van 170 mm tot 200 mm van April tot September. Hy sê die 90 mm wat hy van die begin van die jaar gekry het, kan vergelyk word met die droogte van 1968 tot 1970.

Toe hulle vanjaar aansienlik later as gewoonlik geplant het, was daar vog, maar nou kry die graan swaar en is daar nie weiding nie. Gildenhuys sê hy het sy vee in van die ouer kanolalande gejaag.

Hy sê daar is enkele kampe wat nog potensiaal toon, maar die hittegolf van einde Julie, toe die bergwind omtrent vir ’n week gewaai het, het skade veroorsaak.

“As ons nou ’n groot klomp reën kry, kan my gars nog herstel. Ek weet nie van die koring nie. ’n Mens weet nie hoe die graan gaan reageer as dit nou reën nie, veral as dit begin warmer word. My instink is dat dit dalk al te laat is.”

Gildenhuys het ook sy teleurstelling uitgespreek oor die onvermoë van weervoorspellers om reën reg te voorspel.

Mnr. Jacobus Human van die plaas Eerstekop by Heidelberg sê die reën was vanjaar maar skraps. “Onder omstandighede staan daar eintlik ’n wonderwerk op die land.”

Hulle het egter dringend nog reën nodig. “Dis ’n taai jaar en dit raak nou laat vir reën, maar ek meen die kans om nog ’n oes te maak, is nie heeltemal verby nie.”