Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het met die samewerking van die rooivleisbedryf taakspanne aangewys om Suid-Afrika se handelsvennote te oortuig om nie die uitvoer van rooivleis op te skort nie. Die taakspanne is saamgestel uit rolspelers in die bedryf, soos die nasionale dieregesondheidsforum.

Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê die belangrikste kwessie is om die gebiede wat geraak word, skoon te maak en verdere verspreiding van die siekte te voorkom. “Daar is met grootskaalse pogings begin om beeste teen die siekte in te ent en beeste wat geaffekteer word, te behandel. Sodoende kan die verspreiding van die siekte gekeer word,” het Zokwana gesê.

Hy het verskerpte biobeheermaatreëls, soos die verskuiwing van diere vanuit die beheersone na Suid-Afrika se vrye sone, sowel as die deegliker afsper van bek-en-klouseergebiede, aangekondig. Die minister het gesê die naspeurbaarheid van rooivleis moet opgeskerp word om uitbrekings in die vrye sones in Suid-Afrika te voorkom.

Die verbod

Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum, het gesê die verbod van die internasionale organisasie vir dieregesondheid op Suid-Afrikaanse rooivleisuitvoer gaan daartoe lei dat handelsvennote hul deure vir besigheid met Suid-Afrika sluit. Dit is egter voorkomende maatreëls wat weer opgehef sal word sodra Suid-Afrika kan bewys die uitbreking is in bedwang gebring. “Die lande stel outomaties ’n verbod in om eerstens hulle eie bedrywe te beskerm, asook om die erns van die uitbreking te bepaal. Sodra hulle sien ons het die siekte onder beheer, behoort hulle die verbod op te hef,” het Vervoort gesê.

Zokwana het beklemtoon dat die gebiede wat deur die siekte geraak word, slegs ’n klein deel van die Suid-Afrikaanse rooivleisproduksiegebied uitmaak. Hy het gesê met die nodige maatreëls behoort die probleem spoedig opgelos te word.

“Ons het ná beraadslaging met die rooivleisbedryf meer vertroue dat ons die uitbreking in bedwang kan bring nadat ons die versekering gekry het dat die bedryf nou met die Regering sal saamwerk in hierdie verband,” het Zokwana gesê.

Vervoort het beklemtoon dat bek-en-klouseer nie ’n soönotiese siekte is nie, en dus nie na mense oorgedra kan word nie. “Mense hoef nie bekommerd te wees dat hulle bek-en-klouseer sal opdoen nie. Jy kan dus maar jou vleisbraaivuur aansteek,” het hy gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.