Die hof het in Junie die organisasie se aansoek dat sigarette en tabakprodukte as noodsaaklik verklaar word ingevolge die regering se regulasies vir die inperking met ’n kostebevel van die hand gewys.

Mnr. Sinenhlanghla Mnguni, voorsitter van Fita, het reeds aangedui dat die organisasie hom nou tot die appèlhof gaan wend.

FITA wil sien dat vlak 4- en vlak 3-regulasies wat die verkoop van tabakprodukte verbied, hersien en ter syde gestel word en dat die verkoop van tabakprodukte wettig verklaar word.

Die hof het egter in Junie bevind dat noodsaaklike goedere soos uiteengesit in regulasie 11A van vlak 5 vertolk kan word as goedere wat noodsaaklik is om lewe, gesondheid en basiese funksionaliteit te kan behou. Sigarette en tabakprodukte val nie in hierdie kategorie nie, het regters J.P. Malambo, J. Molefe en J. Basson op die aanvanklike aansoek gereageer in hul uitspraak.

Intussen wag die sigaretreus British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa) om sy saak teen die verbod op tabakprodukte in die hof te stel. Dié maatskappy se aansoek teen die staat en in besonder me. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, sal vroeg in Augustus in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word.