Wildsvleis gaan boonop binnekort dieselfde pad volg.

Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het inligting oor watter diere en diereprodukte nie uitgevoer kan word nie, bekend gemaak. Dit is nadat me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, vrae oor die kwessie aan hom in die parlement gestel het.

Steyn wou weet op watter lewende diere en vleisprodukte ’n verbod in die drie boekjare van 2014 tot Maart 2017 ingestel was, asook wat die stand van sake is sedert April verlede jaar. Die Europese Unie (EU) het Suid-Afrika onlangs ingelig dat hy die invoer van Suid-Afrikaanse wildsvleis gaan opskort. Dit is weens die land se onvermoë om sy planne vir residubeheer by wild waarmee intensief en ekstensief geboer word, voldoende te monitor. Dit beteken volstruis-, krokodil- of wildsvleis kan nie na die EU uitgevoer word nie.

Verbod op uitvoer

Zokwana het aangedui dat Zambië in 2016 ’n verbod op die invoer van varkvleis en varkprodukte geplaas het weens die uitbreking van Afrika-varkgriep. Die verbod is steeds van krag.

Die EU het in 2011 en weer in 2014 ’n verbod op die invoer van wildsvleis van diere met hoewe ingestel weens die uitbreking van bek-en-klouseer.

In Oktober 2015 is ’n vergadering in Brussel gehou waar die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sy vordering moes verduidelik om handel weer aan die gang te kry. Die EU het verlede September ’n oudit van die situasie ten opsigte van bek-en-klouseer in Suid-Afrika gedoen en die verbod is steeds in plek.

Sedert April verlede jaar is ’n verbod boonop geplaas op die uitvoer van vleis van wild waarmee intensief geboer word, wat volstruis- en krokodilvleis insluit. Die vleis van wild waarmee ekstensief geboer word, gaan ook ingesluit word sodra die EU die gewysigde regulasies publiseer.

Vanjaar is ’n verbod op die uitvoer van suiwelprodukte uit Suid-Afrika na Zimbabwe geplaas weens die uitbreking van listeriose, wat reeds tot die dood van 183 mense in Suid-Afrika gelei het.

Beesvleis

Mosambiek het verlede jaar die invoer van rooivleis opgeskort weens die uitbreking van bek-en-klouseer buite die siektevrye sone vir dié siekte in Limpopo.

Hoewel die departement Mosambiek verlede September ingelig het dat die uitbreking buite die bek-en-klouseervrye gebied was, is daar nie weer amptelike inligting ontvang vir die opheffing van die verbod nie. Die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) bepaal dat mits ’n uitbreking buite ’n bepaalde siektevrye gebied voorgekom het, dit nie handel behoort te beïnvloed nie, Suid-Afrika word egter wél toegelaat om vleis daarheen uit te voer, het Zokwana gesê.

Verlede jaar het China die uitvoer van beesvelle uit Suid-Afrika weens knopvelsiekte verbied. Zokwana het gesê ’n skrywe is in Februarie vanjaar aan China gerig. Die doel daarvan was om te vra dat dié land dit moet oorweeg om beesvelle van die drie Suid-Afrikaanse geriewe waarvan die vleis daarheen uitgevoer word, te aanvaar. Die verbod is steeds in plek.

Pluimvee-uitvoerverbod

Met die winter om die draai, kan daar nie met sekerheid gesê word of Suid-Afrika verlos gaan wees van die gewraakte en hoogs aansteeklike pluimveevirus H5N8 nie. Volgens dr. Charlotte Nkuna, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, het die bedryf ’n verlies van R954 miljoen gely en meer as 1 300 mense het hul werk verloor. Die totale waarde van die hoenders wat uitgeslag moes word en eiers wat vernietig is, beloop R307,15 miljoen.

Van die lande wat ’n verbod ingestel het op die invoer van ’n verskeidenheid pluimveeprodukte – wat strek van onder meer lewende voëls tot eiers en onverwerkte byprodukte – is die EU, Saoedi-Arabië, Israel, Mosambiek, Namibië, die Filippyne, Mauritius, Zimbabwe en Botswana.