Skynbaar kom die grootste besmetting tans in KwaZulu-Natal, Limpopo, die westelike dele van Mpumalanga, die noordelike en oostelike dele van Gauteng, die Vrystaat en dele van die Oos-Kaap voor.

Croplife SA sê luidens ’n verklaring hierdie wydverspreide en baie algemene plantplaag is ’n tipiese Lepidoptera-plaag wat begin met motte wat gebiede met gewasse binnedring. Sodra hulle gepaar, eiers gelê en die eiers uitgebroei het, begin die groot larwes jong plante aanval.

Mielieboere in KwaZulu-Natal het grootskaalse skade aan pas aangeplante mielies aangemeld, terwyl boere in die Vrystaat groot hoeveelhede verskillende snywurmspesies opgemerk het namate hulle saadbeddings vir aanplantings voorberei het. Kleinboere in KwaMhlanga, in Noord-KwaZulu-Natal, die Laeveld in Mpumalanga, die Oos-Kaap en by Polokwane in Limpopo het ook ernstige snywurmskade aan groente en mielies aangemeld.

Mate van weerstand

Vroeë aanduidings toon dat die snywurms ’n mate van weerstand ontwikkel het teen die piretroïedinsekdoders wat geregistreer is om snywurms te bekamp. Boere moet hierdie insekdoders toedien teen die hoogste dosis soos aangedui op die etikette, en so vroeg moontlik nadat die snywurms uitgebroei het. Snywurms ontwikkel oor tot nege stadiums. Soos ander Lepidoptera-plae word dit al hoe moeiliker om hulle met die meeste insekdoders te bekamp namate hulle ouer word.

Snywurms is gewoonlik groot, vet larwes wat wissel van liggrys tot feitlik swart, na gelang van die spesie en streek. Hulle woon net onder die grondoppervlak en kom snags uit om te vreet. Die motte is grysbruin van kleur.

Boere word aangemoedig om foto’s van goeie gehalte met slimfone te neem en dit per WhatsApp na die CropLife SA-noodnommer 082 446 8946 te stuur vir verifikasie deur die spesialisentomoloë wat CropLife SA met die identifikasie help.

’n Lys van insekdoders wat vir die bekamping van snywurms geregistreer is, is op die CropLife SA Agri-Intel-databasis by www.agri-intel.com beskikbaar.