In dié transaksie is twee stukke grond, IP (564) van 481 ha en Palmietfontein (403) van 547 ha vir ’n ongelooflike R586,5 miljoen verkoop. Die koper is die staatspensioenfonds en die verkoper, Isago @ N12 Development. Dit werk uit op R570 525/ha in ’n gebied waar die gemiddelde prys vir landbougrond nie hoër as R20 000/ha beloop nie en grond vir ontwikkeling sowat R150 000/ha werd is.

plaasverkoop
Die transaksie soos dit in die Landbouweekblad van 31 Januarie 2020 verskyn het

Na verdere ondersoek deur Landbouweekblad en die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) lyk dit asof die somme nog minder sin maak. Volgens die titelakte wat bekom is, het die staatspensioenfonds slegs 60% aandele in die twee stukke grond bekom. Die ander 40% is aan Isago Holdings (Edms.) Bpk. verkoop vir nil rand. Die waarde hiervan word wel as R340 000 000 in die titelakte aangegee.

Volgens Motlosana-munisipaliteit se waardasierol, SV05 Supplementary Valuation roll for the period 1 July 2014 – 30 June 2020, is die 481ha van IP (564) gewaardeer vir R8 970 000. Die ander berugte stuk grond, Palmietfontein (403), was volgens die munisipaliteit se waardasierol verlede jaar R16 370 000 werd. Dus is die waarde van die grond gesamentlik, R25 340 000. Baie minder as die verkoopbedrag wat Suid-Afrikaners nou aan die gons het.

Valke

Die VF Plus het aangekondig dat hy die Valke gaan vra om ondersoek in te stel na die transaksie.

Mnr. Wouter Wessels, hoofwoordvoerder van die party, sê die party het self ondersoek gaan instel en kon geen tekens van enige ontwikkeling op die grond sien nie.“ ’n Groot deel van die grond is dolomiet, waarop waarskynlik niks gedoen kan word nie. Hierdie transaksie maak dus glad nie sin nie. Die staatspensioenfonds moet tog in iets belê waarop vinnig wins gemaak kan word.”

Wessels sê verder dat die transaksie deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gedoen is wat reeds op verskeie vlakke ondersoek word oor die roekelose aanwending van geld van die staatspensioenfonds. Die VF Plus kan ook bevestig dat die mededingingskommissie die transaksie goedgekeur het. 

“Dit laat dwingende vrae ontstaan oor die ketting van besluite en goedkeuring wat met die transaksie gevolg is. Benewens die ondersoek wat die VF Plus van die Valke sal aanvra, sal die party self verdere ondersoekwerk doen rondom die twyfelagtige beleggings van die OBK met geld van die staatspensioenfonds,” sê Wessels. Landbouweekblad het ook betroubaar verneem dat Isago @ N12 nie by kontrakvoorwaardes vir die ontwikkeling van die grond gehou het nie en nie die grond sonder die Motlosana-munisipaliteit se toestemming kon verkoop nie. Dit blyk dus daar rakende die transaksie ook ongerymdhede binne die munisipaliteit plaasgevind het.

Intussen het Saai aangedui dat met sy regspan vergader word om klagte in te dien en ook verdere ondersoeke te begin.

“Die prys waarteen die staatspensioenfonds dié grond aangekoop het, is 2 198% hoër as die laaste waardasieprys. Dit is leë landbougrond wat gekoop is met die oog op verdere ontwikkeling. Die staatspensioenfonds is ’n entiteit wat staatsamptenare se pensioengeld eerlik en verantwoordelik moet bestuur. Om so reuse-eskalasie vir die transaksie te betaal is nie een van die twee nie,” sê mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Dit is nie die eerste keer dat Isago @ N12 in die sop is oor die verkoop van sy grond langs Klerksdorp nie.

In 2015 en 2016 was Isago betrokke by twee transaksies waar meer as R200 miljoen van die pensioenfonds van munisipale raadslede ook in ’n grondtransaksie gebruik is. In dié geval het ’n hof bevind dat R110 miljoen meer betaal is as die waarde van die grond en Isago is beveel om dit terug te betaal aan die fonds.