Daar is oral paaie wat nou totaal onbegaanbaar is, sê dr. Jack Armour, bedryfshoof van Vrystaat Landbou.

Dié organisasie het ’n brief aan die Vrysaatse provinsiale regering geskryf waarin hy dringend vra dat die provinsie as rampgebied verklaar word sodat noodsaaklike herstelwerk aan paaie en ander infrastruktuur gedoen word.

“Ons het terugvoer gekry dat daar van November af tot 10 vragmotors op paaie in die distrik Wesselsbron omgeval het. Brûe het byna weggespoel en paaie is onbegaanbaar met diep vore langs die pad. As dit reën en jy beweeg net bietjie te veel na die kant van die pad met die vragmotor, gly jy in die voor in en die voertuig slaan om.”

Hy sê die provinsiale regering se onvermoë om die afgelope tien tot vyftien jaar die paaie ordentlik te onderhou, het nou ’n massiewe agterstand veroorsaak. In die geval van grondpaaie word die padoppervlak net vinnig geskraap, maar die vore en kontoere word nie onderhou nie. “Die hobbels oor die stormwaterpype, wat die water van die pad moet weglei na die vore langs die pad, is nou  gelyk gemaak. Die water kom nie weg van die paaie soos dit moet nie en as dit so baie soos nou reën, word die pad ’n rivier.”

Soos wat dit die afgelope paar jaar die norm geword het, het boere ná die onlangse skade reeds ingespring en begin herstelwerk doen. Armour waarsku egter dat dit die onus van aanspreeklikheid op hulle plaas. “Die department van paaie kom nie vinnig by hulle uit om goedkeuring te gee nie, maar hy het gesê hy sal padtekens voorsien. Dit is sover die hulp van department van paaie nou strek.”

Hy sê die meeste van die provinsie se vloot geel padboutoerusting is meer gebreek as wat dit reg werk. “Hulle kom werk ’n dag of twee en dan breek die toerusting net weer. Dit is ’n mors van tyd om jou na die staat te wend vir hulp om die slaggate en paaie te herstel.”

Daarby is tot 80% van die operateurs ouer as 60 jaar. Weens die gevaar van Covid-19 kom werk hulle sedert die inperking nie meer nie. “Die department sit met ‘n oormaat uitvoerende bestuurslui wie se salarisse die hele begroting insluk sodat daar niks vir padherstelwerk oorbly nie.”