Mnr. Loutjie Dunn, uittredende voorsitter van die Vereniging van Veevoervervaardigers (Afma), sê in sy voorsittersverslag vir Afma se onlangse jaarvergadering in Port Elizabeth dit spruit uit die werk van die Regering se taakspan wat oplossings vir die hoenderbedryf se probleme moet vind.

Die taakspan het aanbeveel dat goedkoper voer beskikbaar moet wees. Die invoertarief op soja-oliekoek moet aandag kry om produksiemiddele vir pluimveevoer goedkoper te maak.

Die taakspan se handelskomitee het besluit dat nie net dié tarief nie, maar ook die tariewe op sojabone, sonneblom en sonneblom-oliekoek afgeskaf behoort te word.

“Afma sal die leiding neem om aan die saak aandag te gee, maar met die samewerking van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging,” sê Dunn in die verslag.

Oor pryse van produksiemiddele het hy gesê die termynprys van wit mielies was begin Augustus sowat 21% hoër as ’n jaar gelede en die termynprys van geel mielies sowat 17% hoër. 

Die termynprys van sojabone was egter sowat 4% laer. “Dié daling in sojaboonpryse sal die voerbedryf bevoordeel, en vervolgens ook die pluimvee- en lewendehawesektore.”

Dunn sê Afma, die JSE Sekuriteitebeurs en oliepersers het vroeër vanjaar vergader om te kyk na die moontlikheid van die notering van kontrakte vir sojameel en sonneblom-oliekoek.

Groei in Afrika

Die wêreldproduksie van vermengde voer het in 2017 met 3,5% gegroei en Dunn sê die gesonde groei word ondersteun deur ’n hoër vraag na vleis, melk en eiers.

Afrika se produksie het volgens Alltech se globale voer-opname van 2012 tot 2017 met 30% gegroei, hoewel vanaf ’n lae basis.

  • Mnr. Wouter de Wet van RCL Foods is tot nuwe voorsitter en mnr. Thinus de Lill van Quantum Foods tot ondervoorsitter van Afma verkies.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.