Die Vryemarkstigting (VMS) waarsku dat dit die kern van eiendomsreg sal aantas en arm swart mense die meeste kan benadeel. Die organisasie sê sekerheid van eiendsomsregte is ’n voorvereiste vir voorspoed. As die wetsontwerp in sy huidige vorm deurgevoer word, sal dit die wese van private eiendomsreg aantas en die beginsels onderliggend aan die Grondwet en die oppergesag van die reg skend.

Mnr. Martin van Staden, uitvoerende komiteelid van die VMS, sê die voorgestelde wetgewing word aan die publiek voorgehou onder die dekmantel van maatskaplike geregtigheid en grondhervorming, terwyl dit inderwaarheid die publiek se vryheid ondermyn.

“Een van die afskuwelikste aspekte van apartheid was die miskenning van eiendomsregte. Hierdie wetgewing sal beteken dat alle Suid-Afrikaners, veral swart mense, nooit die regte sal geniet nie waarvoor baie geveg en gesterf het. Terwyl die meeste wit beleggers, stedelike huiseienaars en boere nog hulpbronne het waarmee hulle hulself kan beskerm, sal die meeste slagoffers arm swart mense wees wie se eiendom na willekeur onteien sal word ter wille van damme, paaie, lughawens, politieke projekte, myne en vir enige ander politieke grille.”

Ván die VMS se vernaamste besware teen die voorstelle is die vaagheid van begrippe soos onteieningsgesag, openbare belang en openbare doelwitte, wat nie voldoen aan die vereistes van die oppergesag van die reg nie. Daarvolgens moet wetgewing duidelik, sonder teenstrydighede en redelik wees sonder dat dit aan amptenare vrye teuels gee om hul diskresionêre magte te gebruik.

Die wetsontwerp maak nie net voorsiening vir te veel diskresionêre magte vir die minister nie, maar enige amptenaar sal die reg hê om te bepaal watter eiendomme moet onteien word. Dit baan die weg vir nepotisme, korrupsie en wraakoptrede. Daar is reeds voorbeelde hiervan. 

Van Staden wys ook daarop dat alle wetsontwerpe gepaard moet gaan met ’n maatskaplik-ekonomiese impakopname. Daar is nie een vir hierdie wetsontwerp nie. Die onafhanklik impakopname verseker dat dit grondige wetgewing en nie net ’n gier van ’n politikus is nie. “Om hierdie rede alleen behoort die wetsontwerp al onttrek te word. 

“Die voorgestelde wetgewing maak dit te maklik vir die regering om te onteien, met of sonder vergoeding. Daar moet bykomende beskermingsmaatreëls vir die regte en belange te wees van mense wat eiendom in Suid-Afrika besit.”

Die instituut vir rasseverhouding (IRR) sê die onteieningswetsontwerp en veranderinge aan artikel 25 van die Grondwet plaas groot mag in die hande van ’n staat wat alte dikwels toon dat hy korrup en disfunksioneel is. Daar is min dinge wat beleggers meer afskrik as wanneer die veiligheid van hul bates bedreig word.

Om voort te beur met die agenda van onteiening sonder vergoeding sal in die beste van tye skadelik en roekeloos wees. Om dit in die huidige ekonomiese omstandighede te doen bedreig die hele land se toekoms, sê mnr. Hermann Pretorius, hoof van strategie by die IRR.

Agri SA, wat ook onlangs sy kommentaar ingedien het, het twee studies ter ondersteuning van die kommentaar gedoen – een oor die ekonomiese uitwerking van ’n benadering van nulvergoeding en een oor die uitwerking van die Covid-19-pandemie op die landbou-sektor. Daar is ook regsadvies oor die kwessie ingewin. 

Me. Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA, sê een van die belangikste punte in die voorlegging is dat grondeienaars onmiddellik voldoende en doeltreffende vergoeding behoort te ontvang, wat hulle dan in staat sal stel om elders weer te begin. Hulle moenie swakker daaraan toe wees as gevolg van die onteiening nie. 

Sy sê Agri SA wil ’n volhoubare, lewensvatbare sektor verseker, ondersteun vryemarkbeginsels en die boere van vandag kan nie alleen aanspreeklik gehou word vir historiese gebeure nie. Grondeienaars wat onteien word, moet altyd die reg hê om hulle tot die howe te wend.

’n Ad hoc-komitee wat die wysigingswetgewing moet opstel, oorweeg nou al die kommentare en wil die wysigingswetsontwerp reeds teen 19 Maart vir goedkeuring voorlê. 

Meer as 200 000 voorleggings oor die wysiging van artikel 25 is voorgelê. Organisasies wat reeds skriftelike voorleggings gemaak het, kan nie ook mondelingse voorleggings doen nie. Die DA meen hierdie besluit van die komitee is ongrondwetlik.