Die beskadiging van Transnet se brandstofpypleiding tussen Durban en Gauteng in herhaaldelike diefstalpogings word as oorsaak voorgehou vir dieseltekorte in die komende week of twee.

Graan SA, wat gister (Woensdag 10 Junie) met die SA petroleumbedryfsvereniging (Sapia) oor die situasie vergader het, sê hy doen alles in sy vermoë om te help dat brandstof veral voorsien word in streke waar boere besig is met die stroop van gewasse en die vervoer van produkte soos sitrusvrugte nadat dit geoes is.

Mnr. Corne Louw, senior ekonoom by Graan SA, sê die organisasie gee inligting aan Sapia deur oor streke waar gestroop word en wat voorkeur behoort te geniet. “Witmielies nader nou die belangrikste strooptyd en as daar nie diesel beskikbaar is nie, kan voedselsekerheid in die gedrang kom. Ons wil sien dat dele soos die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga nou voorkeur moet geniet.”

Volgens ’n opname wat Graan SA onder lede oor die tekorte gedoen het, wissel dit van gebied tot gebied en die situasie kan van dag tot dag verskil. Louw sê daar was dele soos die Noordwes-Vrystaat waar meer as die helfte van die lede gesê het hulle sukkel om genoeg diesel te bekom en in Oos-Vrystaat het sowat 35% gesukkel. In Mpumalanga het lede aangedui dat diesel geredelik beskikbaar is.

Mnr. Lourens van der Linde, ’n boer van Wesselsbron, wat binnekort 3 000 ha witmielies moet stroop en ook ’n meule het wat mieliemeel aan die Pick n Pay-winkelgroep verskaf, sê hy gaan binnekort sowat 23 000 liter diesel per week nodig hê vir die stropery en vervoer. Weens die rantsoenering van diesel is boere beperk tot 1 000 liter op ’n slag wat hulle self by die depots moet afhaal.

“Dit is soos om dorp toe te ry en een beker water te koop om in die hele plaas se waterbehoeftes te voorsien. Een stroper het meer as 1 000 liter op ’n slag nodig. Om die situasie te vererger, is die meeste boere in my omgewing se grootmaatvoorrade amper uitgeput.”

Mnr. Corné van der Walt van Agri Petroleum, die grootmaatverskaffer in die gebied, sê hulle sukkel om diesel te kry en moet alles moontlik doen om die tekort te bestuur. “Ons moes aflewerings opskort en boere moet hul voorraad op die oomblik kom afhaal. Op hierdie manier kan ons help om 25 boere aan die gang te hou pleks van net een.”

Hy sê niemand was al voorheen in ’n inperkingsituasie nie en hy kan nie sê wat die oorsaak van die tekort en rantsoenering is nie. “Al wat ek weet, is dat talle boere binnekort volstoom witmielies gaan wil stroop en dat daar baie diesel nodig gaan wees. Dan kan ’n verwagte prysverhoging die einde van die maand die vraag verder aanspoor.”

Namate die kommer oor die rantsoenering toeneem, word al hoe meer bespiegel oor die redes daarvoor. Ondanks amptelike verklarings daarvoor is daar gerugte oor diesel wat na Eskom vir kragopwekking toegewys word.

’n Aanvanklike tekort einde Mei is deur Sapia toegeskryf aan die heropening van die ekonomie met fase 3 wat tot ’n drastiese styging in die vraag gelei het. Die onbeplande sluiting van twee raffinaderye het verder tot die probleem bygedra.

Mnr. Kevin Mileham, die DA se skaduminister vir minerale hulpbronne en energie, het vroeër gesê met die Sapref- en Engen-raffinaderye in Durban wat weer op dreef gekom het, is die produksie weer normaal. Toe die tekort ontstaan het, was drie van die ses raffinaderye in die land nog gesluit, twee het beperkte produksie gehad en een het probleme met besoedeling en pyplyngebreke ondervind.

In ’n nuwe verklaring sê Sapia daar word nou ’n verdere tekort ondervind weens die vandalisme en diefstal by die Transnet-pyplyn. Die jongste voorval was Maandag by Cornelia in die Vrystaat.