Eierboere het verlede jaar verliese gely toe voer weens die droogte duurder geword het, sê dr. Charlotte Nkuna, 'n senior amptenaar van die SA Pluimveevereniging (SAPV).

Sy het in 'n verklaring gesê baie kleinskaalse boere – diegene met vermoë vir 5 000 tot 40 000 henne – het die bedryf verlaat.

Sommige boere het weens die moeilike omstandighede vroeër as gewoonlik van hul henne ontslae geraak: Die gemiddelde ouderdom was 71,8 weke vergeleke met die 74,8 weke in 2015.

Voerprysstygings van R1000/ton

“Die afgelope jaar was vir eierprodusente baie uitdagend,” het Nkuna gesê. “Boere het tussen Januarie en Augustus voerprysstygings van minstens R1 000/ton ervaar.

“Terselfdertyd het eierpryse van Januarie tot April weens 'n oorskot in die mark beduidend gedaal.” Nkuna sê boere kon weens die duurder voer nie hul verliese verhaal nie.

'n Byna jaar lange daling in die grootte van die land se produktiewe lêhenbevolking en die gepaardgaande getal eiers wat geproduseer is, het nou tot 'n akute tekort aan eiers gelei, wat na verwagting op medium termyn sal voortduur.

Nkuna sê omdat eiers die goedkoopste bron van diereproteïen is, en diereproteïen van ander bronne duurder geword het, het verbruikers na eiers oorbeweeg. Dit het die vraag na eiers verhoog en verder tot die tekort bygedra.