Volgens Cape Wools het sy Merino-aanwyser met 4,2%, oftewel 863 punte, gestyg. Die Australiese EMI het met 3,6% toegeneem. Cape Wools se aanwyser vir alle wol het met 3,9% verhoog.

Cape Wools sê daar was stewige mededinging, veral vir goeie Merino-langwol. Die verkope van swakker wol, asook lammerwol, was gunstig.

Volgens die organisasie begin ’n tekort aan goeie wol ontwikkel as gevolg van die volgehoue droogtes in Suid-Afrika en Australië, asook die toename in korter wol weens die verandering in skeerpatrone.

Die prys van sterker wol van 19,5 mikron en meer het meer gestyg as dié van fyner wol as gevolg van groter fynwolaanbiedings in Australië. ’n Groter persentasie wol word ook nadelig beïnvloed deur die droogte.

Altesaam 95,8% van die 10 850 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers was G Modiano SA (3 467 bale), Standard Wool SA (3 446 bale), Lempriere SA (1 693 bale) en Tianyu SA (1 306 bale).

Pryse op rekordvlakke

Sommige kenners meen Suid-Afrika se wolbedryf beleef tans ’n bloeitydperk met pryse wat sedert verlede jaar op rekordvlakke gebly het.

Die wolprys het verlede Augustus op die eerste veiling van die 2018-’19-seisoen op R238,29/kg gesluit. Dit is sowat 30% hoër as die openingsprys van R183,50/kg in die 2017-’18-seisoen. Die prys het in die vorige seisoen ’n hoogtepunt van R253,82/kg bereik.

Die volgende veiling vind op 16 Januarie plaas. Meer as 13 500 bale sal onder die hamer kom.

Bek-en-klouseer

Cape Wools vergader vandeesweek oor die gevolge wat die uitbreking van bek-en-klouseer in die distrik Vhembe in Limpopo vir die wolmark kan inhou.

Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike siekte wat vinnig versprei en diere met gesplete hoewe soos beeste, sekere wild, skape en varke raak.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.