Nadat mnr. Henk van Wyk, voorsitter van Agri Noord-Kaap, vroeër vanjaar talle klagtes ontvang het oor telefoonlyne wat afgesny word, is slegs enkele geïsoleerde gevalle die afgelope paar weke by hom aangemeld. In Februarie is sowat 70 boere in die omgewing van Garies se landlyne afgesny sonder dat hulle enige kennisgewings van Telkom ontvang het. 

Ander boere het wél kennisgewings ontvang en Telkom het aangedui dat satellietfone met selfoonsimkaarte as alternatief aangebied sou word.

Dié boere se landlyne is egter afgesny voor hulle verdere kommunikasie of die satelliettelefone van Telkom ontvang het. Weens swak selfoonseine op plase is die satelliettelefone in baie gevalle nie vir boere ’n opsie nie. 

Dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, het in Februarie met Open Serve, Telkom se diensverskaffer, vergader en van die telefoonlyne wat afgesny is, is weer aangeskakel. Hy sê sedert hulle in Februarie probleme help oplos het, het hulle nog nie weer klagtes van boereverenigings of provinsiale affiliasies ontvang oor telefoonlyne wat afgesny is nie. 

Oorweeg alternatiewe

Van Wyk verwag dat Telkom op die ou end sy dienste op die platteland, veral op die Noord-Kaapse platteland, gaan staak. “Boere sal na alternatiewe diensverskaffers en telefoonopsies moet begin kyk. Ons plaaslike boerevereniging het al ander diensverskaffers genooi om hul dienste te kom voorlê. Dit is belangrik dat boere nou al na alternatiewe moet begin kyk.” 

Wait sê boere wat sulke kennisgewings gekry het of probleme ondervind, moet dit by hul plaaslike boerevereniging aanmeld sodat dit na Agri SA verwys kan word. Intussen ondersoek Agri SA ook ander beskikbare opsies vir boere