Suid-Afrika se skoon rekord met sitrusuitvoere na die Europese Unie vanjaar het aan die einde van Junie skipbreuk gely toe vyf besendings vir vals kodlingmot-besmetting in Foss, Frankryk onderskep is.

Só sê die SA Sitruskwekersvereniging (CGA) se gesant vir handelsgeleenthede in Europa, mnr. Deon Joubert.

“Dit is 'n verskriklike teleurstelling, veral in die lig van die noukeurige stappe en protokolle wat die CGA vir 2017 aan sy lede deur die verskillende fokusgroepe saamgestel het,” sê Joubert.

Goeie uitvoerseisoen

Die uitvoerseisoen het tot dusver baie goed vir Suid-Afrika verloop met geen swartvlek-onderskeppings nie. Ander besendings waarin tekens van vals kodlingmot gevind was, was dooie larwes of foutiewe identifikasies.

Die laaste vyf bevestigde onderskeppings plaas Suid-Afrika egter op die agtervoet omdat vals kodlingmot-besmetting van 2018 af 'n "aanmeldbare pes" in die EU gaan wees. Daarom werk die CGA en die nasionale landboudepartement vanjaar hard daaraan om werkbare en aanvaarbare protokolle vir die voorkoming van verspreiding na die EU op te stel.

Indien Suid-Afrika nie aanvaarbare protokolle kan voorlê en implementeer nie, bestaan die risiko dat die EU koue sterilisasie gaan voorskryf wat 'n geweldige koste-impak op Suid-Afrikaanse uitvoere sal hê en winsgewendheid in gedrang kan bring.