Rampverligting van amper R500 miljoen is voorlopig deur mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, begroot om die impak van die voortslepende droogte en verlede jaar se vloede te beperk.

Altesaam R491 miljoen is vir 2020-’21 vir ramphulp begroot. R353 miljoen is opsygesit vir munisipale rampe en R138 miljoen vir provinsies.

Die regering ondersoek ook maniere om vinniger fiskale reaksie tot rampe te lewer én die regering se fiskale bestuur van sy reaksie tot die langtermynuitwerking van klimaatsverandering te verbeter. 

Dele van Suid-Afrika gaan steeds gebuk onder die droogte se wurggreep, terwyl storms in 2019 groot skade aan infrastruktuur in KwaZulu-Natal veroorsaak het. Talle mense is in dié storms dood.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum het aangedui dat uitermatige weerstoestande, natuurlike rampe en klimaataksiemislukkings drie van die top-vyf globale risiko’s in 2020 inhou.

Die regering het sedert 2016 R6,3 miljard vir droogteverligting bewillig en R660 miljoen vir vloede. Reaksie teen rampe is egter ondoeltreffend en duur. Daarom word nou gekyk na ander maniere hoe die krisisse hanteer kan word.

Die regering oorweeg dit ook om vleilande, wat vloedskade kan verminder, in aanmerking te laat kom vir finansiering deur ’n infrastruktuurtoelae.