Die georganiseerde landbou se taak is om te dui waarheen die landbou op pad is, het mnr. Theo Venter, politieke kommentator van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, tydens ’n virtuele kongres van Agri Wes-Kaap gesê.

Venter was ’n genooide spreker en het gesê Suid-Afrika het ’n dominante regering in die ANC. “Krisisse wys foutlyne in enige organisasie uit, asook die veerkragtigheid van leierskap. Suid-Afrika bevind hom in ’n ernstige krisis. Dit bring moontlikhede van verandering na vore – ek hoop die President doen nou die regte aksies.” Kalmte en die handhawing van ’n optimistiese ingesteldheid tydens krisisse is egter belangrik.

Watter kapstok?

Na aanleiding van die onlangse onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng het Venter gesê dis moeilik om ’n “kapstok” te kry om die werklike oorsake daarvan aan op te hang. “Dit kon ekonomiese sabotasie, ’n staatsgreeppoging, ’n ontploffing van die maatskaplik-ekonomiese toestande in die land, of bloot ’n ekonomiese kruitvat wees wat ontplof het.

“Ek meen ná meer as 460 dae van inperking is ’n klimaat geskep wat ideaal daarvoor was. Niemand weet hoeveel gewig die feit dat Jacob Zuma in die tronk is, regtig gespeel het nie. Maar wat belangrik is, is dat die regering nóú sal moet besluit hoe hy Suid-Afrika verder gaan bestuur.”

Of Ramaphosa ná 2024 sterk genoeg is om staande te bly, sal gesien moet word. Sy tweede termyn begin in 2024, en daar wag beslis probleme vir hom, veral ná 2024. ’n Moontlikheid dat die ANC kan skeur, bestaan ook.

Die uitstel van die munisipale verkiesing tot Februarie 2022 kan ’n goeie besluit wees, mits dit reg bestuur word, meen Venter.