Die kwessie van beweerde ondoeltreffende entstof steek weer sy kop uit nadat talle perde, wat glo ingeënt was teen AHS, in die Oos-Kaap gevrek het. Die Demokratiese Alliansie (DA) sê sowat 80 perde het in die bestek van twee maande aan dié siekte gevrek in die distrik Keimond en Kouga. Inligting dat uitbrekings ook in Gauteng en KwaZulu-Natal voorkom, is ook ontvang.
 
Luidens ’n verklaring het me. Annette Steyn, woordvoerder vir die party, verlede week die distrik Keimond besoek om meer inligting in te win. Een van die perde-eienaars waarmee sy gepraat het, het ses van haar 27 perde oor ’n tydperk van vyf weke verloor. Al ses perde was ingeënt.
 
Volgens Steyn is dit duidelik dat van die perde-eienaars nie meer entstowwe wat van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) afkomstig is, vertrou nie. Sy sê dit is uiters kommerwekkend dat perde wat ingeënt is, ook vrek. “In sommige gevalle word vermoed dat dit selfs die entstof was wat veroorsaak het dat die perde AHS kry.”
 
OIE-verslag
Steyn is van plan om vrae aan me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, te stel aangaande die verslag wat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) saamgestel het ná ’n besoek aan die land. “Dié verslag sal ons ’n robuuste oorsig gee oor dieregesondheidskwessies in Suid-Afrika.”
 
Die party het verlede jaar reeds begin om openbare bewusmaking te skep vir akkurate data en entstofnavorsing aangaande AHS en ander siektes in die land. “Dit is van kritiee belang dat doeltreffende entstowwe ontwikkel moet word. Daarbenewens moet akkurate data bygehou word en die departement se webtuiste moet opgedateer word om aan te dui waar die nuutste uitbrekings is en watter voorkomende maatreëls gevolg moet word. Die laaste uitbreking wat aangeteken is, was aan die begin van 2011.”
 
“Dit is tyd dat Joemat-Pettersson begin optree oor probleme met dieresiektes in Suid-Afrika. Sy kan nie langer haar kop in die sand begrawe nie,” aldus Steyn.