Nuwe data rakende waterbesoedeling weens die ontginning van skaliegas in Amerika is aan die Minister van Minerale Sake gegee.

Die Treasure Karoo Action Group (TKAG) het nuwe data rakende waterbesoedeling weens die ontginning van skaliegas in Amerika, aan die Minister van Minerale Sake, adv. Ngoako Ramatlhodi, deurgegee.

Die organisasie het verwys na 'n verslag wat pas in die Amerika deur die Wall Street Journal en die Associated Press uitgereik is.

Die hoof uitvoerende beampte van TKAG, mnr. Jonathan Deal, het in ’n nuusverklaring ook verwys na bewerings wat deur die internasionale olie- en gasbedryf sedert 2011 gemaak is, veral deur die hoof van Shell Suid-Afrika, mnr. Bonang Mohale, wat herhaaldelik die bestaan van selfs “ ’n enkele gedokumenteerde geval van grondwaterbesoedeling weens hidrobreking” ontken het.

Dié onlangse verslag, volgens TKAG, handel slegs oor gevalle in Pennsilvanië, en kan as die punt van die ysberg van besoedeling weens die ontginning van gas Amerika beskou word.

Pennsilvanië se ouditeur het glo erken dat die departement wat klagtes moet hanteer, heeltemal onbevoeg daarvoor is. Die TKAG het gesê: “Hierdie is 'n landmerkverslag wat ons Regering ernstig moet oorweeg voor enige verdere stappe om die eksplorasie en ontginning van skaliegas te bevorder.

“Dit bekommer ons geweldig dat die direkteur-generaal daarin gefaal het om die tekortkomings van sy departement, met betrekking tot monitering en wetstoepassing, te erken. Monitering alleenlik sal nie grondwater beskerm nie en die voorgestelde regulasies vir die ontginning van skaliegas is onvoldoende en behoort bevraagteken te word.”