Besproeiingsboere wat lid is van besproeiingsrade en watergebruikersverenigings, moes sedert 2017 meters hê en lesings aan die departement van water en sanitasie deurgee. Vanjaar se afkondiging is dus op die oorblywende boere van toepassing.

Mnr. Drickus Botha, lid van die organisasie se waterkomitee, sê die departement se afkondiging is egter deurspek met probleme.

Hy het in Plaaspraatjies, TLU SA se nuwe gespreksreeks op YouTube, oor verskillende waterkwessies gepraat waarmee boere te doene het.

Alle betrokke boere was veronderstel om reeds einde April hul waterlesings na die departement te stuur, wat dit volgens Botha waarskynlik sou gebruik het om aan boere ’n faktuur volgens die tariewe vir ongesuiwerde water te stuur.

Botha sê boere het nie die vereiste meters geïnstalleer nie weens die verskeie probleme en onduidelikheid daaroor.

Onduidelik

“Die spesifikasies van die watermeters is baie onduidelik, so ook die manier waarop dit gelees en ingestuur moet word. Verder is ’n watervloeimeter ’n baie duur ding. Besproeiingsboere besproei met pype van 80 mm tot 200 mm. ’n Watervloeimeter op ’n 200 mm-pyp kos R20 000 of selfs meer, na gelang van die soort meter.

“Mense dink boere het ’n onuitputbare bron van geld. Dit is bloot nie waar nie. As ’n mens kyk wat droogtes, Covid-19 en wetgewing aan ons gedoen het, is dit duidelik dat boere finansieel baie swaar kry.

“Om nou honderdduisende rande vir watervloeimeters uit te haal . . . Ons hét net nie daardie geld nie. As die departement wil weet, moet hy meet, maar hy moet self (vir die meters) betaal.”

TLU SA het ’n versoek vir ’n gesprek tot die departement gerig en me. Lindiwe Sisulu, minister, het ontvangs erken, maar tot dusver was daar nog nie verdere reaksie nie.

Rekeninge

Intussen is daar talle probleme met die rekeninge wat boere van die departement ontvang.

Botha sê die departement behoort ’n taakspan op die been te bring waarvan die lede besluitnemersbevoegdhede het om kwessies rondom rekeninge te kan afhandel en, waar nodig, afslag en afskrywings te kan goedkeur.

Die gebrek aan kontinuïteit by die departement veroorsaak dat die besluitnemers wat vergaderings bywoon, deurlopend verander.

Op die laaste paar vergaderings het die amptenare wat dit bygewoon het, nie besluitnemingsbevoegdhede gehad nie, sê Botha.