TLU SA het vrae oor 600 000 gesigmaskers en 400 000 koekies seep wat die departement teen R20 miljoen aangekoop het. Volgens TLU SA se berekeninge het iemand ongeveer R10 miljoen uit die transaksie in sy sak gesteek.

TLU SA vra in sy brief dat die departement ’n onafhanklike forensiese oudit aanvra om die betalings te ondersoek.

“Ons het tot dusver nie eens erkenning van ontvangs van die skrywe ontvang nie. Wat moet ons hieruit aflei? Dat die departement nie belang stel om met landbou-organisasies te praat nie of dat die departement korrupsie goedkeur?” sê Geldenhuys.

Hy sê TLU SA is teleurgesteld en uiters ontevrede dat Didiza nie teen die ooglopende korrupsie in haar departement optree nie. “Dié ongerymdhede is waarskynlik ’n druppel aan die emmer van die grootskaalse korrupsie wat tydens Covid-19-pandemie deur mense in gesagsposisies gepleeg is, maar TLU SA wil weer eens versoek dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die voortou neem deur dit aan te pak. As die politieke hoof van die departement moet die minister verantwoordelikheid aanvaar vir die optrede van haar personeel.”

Geldenhuys sê die wetsgehoorsame belastingbetalers van Suid-Afrika sal nie voortgaan om korrupsie te finansier nie. As die regering swyg oor korrupsie en geen stappe doen om dit hok te slaan nie, moet die landsburgers daarvan kennis neem.

“Waarheen is Suid-Afrika op pad met die ANC se beleidsrigting en die kondonering van korrupsie? Wat sal uiteindelik oorbly? Dit is onaanvaarbaar en daar moet dringend opgetree word om die koers te verander.”