In antwoord op vrae van die parlement se persgaleryvereniging ná die debat op die presidensie se begroting het Ramaphosa gesê die ANC is steeds ’n voorstander van die toestaan van titelaktes pleks van ’n beleid dat die land se grond onder voogskap van die staat moet wees.

Grond onder die voogdyskap van die staat, die afsnydatum vir restitusie-eise en die rol van howe oor vergoeding is kwessies waaroor die ANC en die EFF konsensus moet bereik in die ad hoc-komitee oor wysigings aan artikel 25 van die Grondwet.

Geldenhuys sê die verskil tussen nasionalisering en onteiening sonder vergoeding is onduidelik. Met nasionalisering word alle grond op een slag weggeneem van die wettige eienaars. Met onteiening sonder vergoeding, teen nulvergoeding, word alle grond stuk-stuk weggeneem van die wettige eienaars. Oor vyf of tien jaar gaan daar geen verskil wees in eienaarskap nie.

Geldenhuys sê die staat het met die voogdyskap oor waterbronne reeds bewys dat dit nie opgewasse is om grond onder voogdyskap van die staat verantwoordelik te bestuur nie. Dit is duidelik in die besoedelde waterbronne, die swak gehalte van die water en die tekortkominge in voorsiening van water vir menslike gebruik. Mense moet nou hul eie geld gebruik om water aan te koop sonder verligting of bystand van die staat. Dit is verdoemend as die staat verder voogdyskap oor alles wil toepas.

“Oor die nuwe wending van voogdyskap moet ernstig besin word. Kyk na die gevolge van sulke besluite. Die ekonomie taan en beleggersvertroue word geknou. Pas ’n week gelede het Standard & Poor’s Global Ratings die land se kredietgradering weer op BB-vlak gestel. Hoewel dit onveranderd is, is dit beslis nie goed nie. Vandeesweek het Statistieke SA berig dat werkloosheid vir die derde agtereenvolgende kwartaal ’n rekordhoogtepunt bereik het. Dit staan op 43%.

“Die regering versuim om die verpligting van die staat na te kom. Verdere wysigings steel die geleentheid vir groei en inderdaad elke burger in die land se toekoms.”