Die nuwe, verhoogde minimum loon is vandeesweek deur die departement van arbeid aangekondig. Dit tree op 1 Maart in werking. Die verhoging van 3,8%, wat die minimum loon vir plaaswerkers tot R18,68 per uur of R3 360 per maand verhoog, is ver onder die verhoging van 12,5% waarop vakbonde aangedring het.

Statistieke SA het verlede week aangekondig dat die werkloosheidsyfer vir die vierde kwartaal van verlede jaar 29,1% was. Sowat 40% van Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 en 34 is werkloos en ook nie besig met die een of ander vorm van opleiding of tersiêre onderrig nie.

“Die ANC en sy alliansievennote gee nie om vir die ekonomie of werkloses in die land nie en tree slegs in belang van hul lede op,” sê mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, luidens die verklaring. “Die minimum loon kan iemand wat bereid is om te onderhandel vir sy loon, van ’n werksgeleentheid ontneem.”

Hy meen as iemand bereid is om pleks van die gedwonge loon van R3 360 te werk vir  byvoorbeeld R2 500, omdat dit is wat die boer kan bekostig, gee jy aan daardie persoon die waardigheid om nie van ’n staatstoelae of bedelary afhanklik te wees vir oorlewing nie. “Wanneer meer mense in ’n gesin kan werk, is die gesamentlike inkomste van die gesin mos ook hoër as wanneer net een persoon in die gesin – teen ’n hoër loon – kan werk.”

Hy sê hoewel daar opstokers is wat mense anders wil laat glo, gee boere wel om vir hul werkers en wil hulle hê hulle moet beter lewens hê. “Om dit moeiliker te maak om meer werkers in diens te neem, is teenproduktief.”

Meintjies sê die aandrang op lone wat die werkgewer nie kan bekostig nie, benadeel die werker wat nie in diens geneem word nie, én die ekonomie wat nie plaaslike groei toon nie. “ ’n Minimumloon-stelsel kan mense in ’n stabiele ekonomie ophef. In die huidige Suid-Afrikaanse beleidsomgewing en ekonomie dra dit egter net by tot werkloosheid en ’n afhanklikheid van staatstoelaes.”