“Die TLU SA het lankal reeds besef landbouers kan nie op die regering staatmaak vir beveiliging nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, adjunkpresident van die organisasie en voorsitter van sy veiligheidskomitee. “Die oplossing lê in persoonlike paraatheid.”

TLU SA is uiters bekommerd oor die styging in plaasaanvalle wat sedert die naweek tot vyf moorde gelei het. Hy moedig boere, gesinne en werkers aan om te alle tye paraat te wees.

“Die nege aanvalle sedert die naweek het ons waarneming bevestig dat die merkbare daling in geweldsmisdade op plase en hoewes tydens die eerste paar weke van die inperking kortstondig was,” sê Geldenhuys.

Die eerste ses maande van vanjaar is volgens hom bykans ’n spieëlbeeld van die situasie dieselfde tydperk verlede jaar. 

Sluiting van polisiestasies

Geldenhuys sê benewens dat die inperking misdaad laat styg het, moet polisiekantore ook tydelik weens Covid-19-gevalle sluit.

“Die publiek is dikwels nie bewus van alternatiewe kontaknommers vir polisielede by dié stasies nie en is dan tydens aanvalle aan hulself oorgelaat.”

“Uit die terugvoer ná onsuksesvolle aanvalle is dit duidelik dat slagoffers wat ’n hoë paraatheidsvlak handhaaf – met ’n vuurwapen byderhand – die aanval doeltreffend kon afweer.”

Die reaksie van ’n goed georganiseerde plaaswag, met lede wat die omgewing en inwoners goed ken, is verder van onskatbare waarde wanneer die reaksietyd en doeltreffende optrede van die plaaslike polisie beperk is.

“Veiligheid begin by die individuele boer, daarna die gesin en werkers en vloei oor na die bure, plaaswag en polisie,” sê Geldenhuys.

TLU SA moedig plaasbewoners aan om voorbereid te wees deur ’n selfverdedingsvuurwapen byderhand te hou, gebeurlikheidsbeplanning te hê, en seker te maak daar is kommunikasievermoë van die plaas af.

Die organisasie doen ’n dringende beroep op boere om by plaaslike veiligheidstrukture in te skakel en te alle tye paraat te wees.