Die organisasie het nog geen terugvoering oor wat tans daaraan gedoen word nie.

“Ons is almal besorg. Almal in Suid-Afrika is,” het me. Bulelwa Makete, direkteur van kommunikasie by die NVG, Dinsdagoggend gesê toe TLU SA ’n memorandum aan haar oorhandig het by die NVG se hoofkantoor in Silverton, Pretoria.

Die memorandum handel oor uitsprake wat mnr. Andile Mngxitama, leier van die BLF, reeds in Desember op ’n openbare saamtrek in Potchefstroom gemaak het. “Dié soort haatspraak wat gedurig uit sy mond kom, is uiters opswepend en is dikwels die vonk in die kruitvat wat lei tot gewelddadige aanvalle en selfs moord op plase,” het mnr. Louis Meintjies, president van TLU SA, gesê.

TLU SA het op 11 Desember verlede jaar ’n klag van haatspraak teen Mngxitama by die polisie gelê. Hy het die vorige dag in Potchefstroom, Noordwes, tydens ’n openbare byeenkoms voor ’n groot gehoor gedreig om vyf wit mense dood te maak vir elke swart mens wat doodgemaak word. Hy het voortgegaan om ook wit vroue en kinders te dreig: “We will kill their children, we will kill their women, we will kill anything we find on our way.”

“Ons het tot dusver nog geen terugvoer gekry oor waar die saak staan nie,” het Meintjies gesê. “Ná verskeie oproepe en e-posse het ons op 26 Februarie per hand ’n brief afgelewer by die NVG se kantoor. Adv. E. Matzke het namens die adjunk-direkteur van openbare vervolging ontvangs daarvan erken en sy het onderneem om ‘binne twee dae’ terugvoer te gee. Ons het nog steeds niks gehoor nie.”

Makete was besorg oor hoekom daar nog geen terugvoer aan TLU SA gegee is oor die vordering met die saak nie. Sy het onderneem om dit dringend op te volg. Sy het ook ’n petisie met die name van 30 886 mense wat TLU SA se klag ondersteun, erken.

“Ons is bly om te hoor dat die NVG self bekommerd is oor die dreigemente wat mense soos Mngxitama en Julius Malema (die leier van die EFF) maak teenoor wit Suid-Afrikaners,” het Meintjies gesê. “Ons vertrou dat daar nou binnekort uitsluitsel gegee sal word of Mngxitama vervolg sal word of nie.”

TLU SA het weer ’n dringende versoek gerig tot adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, om Mngxitama wel te vervolg. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.