Hy sê hoewel Cele ontken dat dié perseel onder die polisie se toesig was, is dit eintlik irrelevant. “Die patrone is gesteel en baie min daarvan kon al teruggevind word. As dit wel onder die toesig van die polisie gebeur het, wil ons baie dringend weet hoe dit gebeur het, wie betrokke was en hoe daar teen die skuldiges, en Cele, opgetree gaan word. Iedergeval is ons steeds baie bekommerd oor waar die ammunisie gaan opduik en watter skade dit verder gaan veroorsaak.”

Geldenhuys sê verder die onderneming vir wie die patrone bestem was, het gesê die polisie het gesloer om toestemming te gee dat die ammunisie die hawe mag verlaat. Volgens hom sê die eienaar van die onderneming, wat al 55 jaar lank ammunisie invoer, dat die vragte gewoonlik goedgekeur word om die hawe te verlaat en dan in Pretoria of Johannesburg geïnspekteer word. Hierdie keer het die owerhede egter daarop aangedring dat die inspeksie in Durban gedoen word.

“Dit strook met die bewering dat polisielede met kennis van die inhoud die inligting aan die diewe verskaf het. Die Valke ondersoek hierdie bewering.”

Volgens Cele is 10 000 patrone terselfdertyd uit ’n ander vuurwapenwinkel naby Durban gesteel is. Dié patrone is intussen teruggekry, volgens hom, maar ander bronne meen dat dit deel van die gesteelde besending was, sê Geldenhuys.

Geldenhuys meen die manier hoe die onluste hanteer is, is heeltemal onaanvaarbaar, veral omdat die polisie probeer keer het dat gemeenskappe, soos dié van Phoenix in KwaZulu-Natal, hulself beskerm.

“Ons vind dit onaanvaarbaar dat die minister altyd ’n flou verskoning het wanneer iets in sy departement verkeerd loop nie. Soms lieg hy sommer oop en bloot. Hoeveel keer gaan die regering dié optrede van iemand in sy posisie aanvaar, voordat hy besef hy is nie opgewasse vir sy uiters belangrike taak nie?”

Besoek www.tlu.co.za/tsamaea-cele vir meer inligting oor TLU SA se veldtog om Cele se afdanking te bewerkstellig.