Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het die plaaswag onlangs besoek en hul “beginnerspak” met onder meer weerkaatsende onderbaadjies, flitse en ligte vir voertuie oorhandig.

“Landelike veiligheid is ’n prioriteit vir die Wes-Kaapse regering. Die R800 000 wat die Bergrivier-munisipaliteit vir landelike veiligheid geallokeer het, is ’n goeie aanvulling tot die ondersteuning wat die Wes-Kaapse departement van landbou bied,” sê Meyer.

Mnr. Francois de Jager, voorsitter van die Redelinghuys-plaaswag, sê hoewel tegnologie hul taak makliker maak, kan hulle dit nie sonder toegewyde lede verrig nie. “Hardwerkende mense wat daartoe verbind is om hul gemeenskap te dien is die hartklop van enige plaaswag. Lede wat patrollie ry, veldbrande beveg en basiese noodhulp by motorongelukke verskaf, bly die belangrikste take wat ons verrig.”

Intussen moedig mnr. Albert Fritz, die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, plaaswagte aan om aansoek te doen om die nodige akkreditasie. “Dit stel die departement in staat om steun te bied aan hierdie belanghebbendes wat hul vrye tyd ter wille van hul gemeenskappe afstaan.”

Die akkreditasie is vir twee jaar geldig en moet drie maande voor dit verval, hernu word.

Fritz sê daar is vele voordele aan akkreditasie verbonde. “Benewens die beginnerspak, ontvang plaaswagte ook R10 000 om hul operasionele en administratiewe kostes finansieel te steun. Die departement bied ook ’n gratis opleidingskursus wat op onder meer patrollering, gemeenskapskartering en veiligheidsoudits konsentreer.”

Besoek www.westerncape.gov.za/general-publication/neighbourhood-watch-nhw vir meer inligting.