Uit: Landbouweekblad, 20 Julie 1971

Mnr. Bennie Strydom van die plaas Palmiet, Riebeek-Oos, het tot dié besef gekom nadat hy sy plaas van ongeveer 1 800 morg (1 551 ha) wat met bitterbos (Chrysocoma tenuifolia) oortrek was, teen R3 per morg met ’n bossieslaner in grasweiding omgeskep het.

Sy plaas het van gedaante verander. Waar dit vroeër ’n bitterbosplaas was, is dit nou ’n grasplaas. Vier jaar gelede het Strydom 700 stuks kleinvee as te veel vir sy plaas beskou.

Twee jaar later, toe hy sowat die helfte van die slaanbare veld met ’n bossieslaner deurgegaan het, kon hy reeds 2 100 kleinvee-eenhede daarop aanhou. Hy het sommer gou gesien dat hy nie met dieselfde soort vee op die “nuwe” plaas sou kon voortgaan nie.

Die ingrypende veldverbetering het nie ’n oor- eenstemmende verbetering in die prestasie van die vee tot gevolg gehad nie omdat hierdie vee doodeenvoudig nie in staat was om die grasveld behoorlik te benut nie.

Goeie kudde-Merino’s het die pragtige, nuwe veld kol-kol bewei, en dit was duidelik dat die wolskaap nie van die lang gras hou nie. Intussen het hy ook sy SA Vleis- merino’s op die grasveld dopgehou.

Dit het hom getref dat hulle die gras egalig afvreet — selfs lang gras waaraan ’n wolskaap nie sy bek wou sit nie. Hulle het nooit kolle gevreet nie, en het selfs van die oorblywende bosse — grotes wat nie met die bossieslaner bygekom kon word nie — gevreet.

Aan lammers is daar by die SA Vleismerino nie ’n tekort nie. Hier is ’n klompie van die jongste seisoen se lammers. Nie een van hulle is ouer as ses weke nie.