Dit was een van die toegewings onder vlak 3 van die staat van inperking wat die minister van toerisme, me. Mmamoloko Kubayi-Ngubane, Donderdag aangekondig het.

Sy het dit duidelik gemaak dat dié regulasies net vir intra-provinsiale reisigers geld en dat mense steeds nie vir ontspanning oor hul provinsiale grense mag reis nie. Gastehuise, hotelle en lodges mag net twee mense per eenheid akkommodeer of ’n gesin van een of twee ouers en hul kinders.

Wildplase mag weer wildbesigtigingsritte met gaste op oop voertuie onderneem, mits hulle afstands- en gesondheidsreëls gehoorsaam.

Mense mag egter steeds nie hul vakansiehuise of woonstelle vir kort periodes uitverhuur nie en gedeeltelike verhurings, soos Air B&B-geriewe, word nog nie toegelaat nie.

Kubayi-Ngubane het ook gesê die aandklokreël word aangepas en sal saans eers 22:00 in werking tree. Sy glo dit sal baie doen om dit vir restaurante moontlik te maak om aandete te bedien. Ongelukkig mag daar nog nie alkoholiese drankies bedien word nie.

Baie is gehelp

Sy het in ’n aanlyn mediakonferensie gesê haar departement het sowat 4 000 toerisme- en gasvryheidsbesighede finansieel bygestaan sedert die staat van inperking ingestel is. R200 miljoen is aan hierdie besighede uitgedeel.

Kubayi-Ngubane, wat kwaai deurgeloop het nadat sy in die parlement verduidelik het dat swart ekonomies bemagtigde maatskappye voorrang sal geniet wanneer dit by reddingspakkette kom, het Donderdag gesê Suid-Afrikaners uit alle bevolkingsgroepe is gehelp, nie net swart mense nie.

Daar was egter 3 284 aansoeke van besighede wat nie gehelp kon word nie omdat die fondse opgedroog het.

Intussen sê sy die staat werk nou saam met die toerismebedryf aan ’n strategie vir die sektor se herstel.