“Tuberkulose (TB) het geen voorkeure wie sy volgende slagoffer is nie en daarom is dit belangrik dat ons die nodige kennis daaroor het,” sê me. Wieda Human, dieetkundige. Die siekte verspei maklik en die bakterieë kan oorgedra word wanneer ’n persoon met TB hoes, nies of praat.

In 2015 was TB die hoof-oorsaak van sterftes in Suid-Afrika, alhoewel dit ’n geneeslike siekte is. Sowat 1% van Suid-Afrikaners ontwikkel jaarliks TB en hulle is meestal volwassenes tussen die ouderdom van 30 en 39 jaar oud en woon in landelike gebiede. Plaaswerkers is veral kwesbaar en een besmette persoon kan 10 ander aansteek voordat hulle behandeling kry. Die droogte en gevolglike verlies aan voedselsekuriteit dra ook by tot die krisis.

Ongeveer 88% van Suid-Afrikaners is besmet met latente TB, waar die infeksie dormant bly. “Persone met latente TB kan nie die siekte oordra aan ander nie. Latente TB kan egter vorder na aktiewe TB in 10% van besmette persone. In immuun-onderdrukte pasiënte soos in die gevalle van diabetes of MIV, is die risiko vir aktiewe TB egter verhoog tot 90%,” sê Human. Vroeë diagnose van die siekte is noodsaaklik vir suksesvolle behandeling en Human doen ’n beroep op boere om hulself en hul werkers so gou as moontlik vir TB te toets. Genoegsame tyd moet ook ingeruim word om ten volle van die siekte te herstel en sodoende verdere verspreiding van die siekte te voorkom.

  • Wieda Human is ’n dieetkundige en MSc-student in Port Elizabeth. Sy is self ’n plaaskind van Upington en is vertroud met die impak van TB. Sy wil boere aanmoedig om hulself en hul werkers te laat toets vir dié behandelbare siekte. Haar e-posadres is: wiedah@icloud.com