Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het aan die parlementêre portefeuljekomitee vir omgewingsake, bosbou en visserye verduidelik waarom dit noodsaaklik is dat hy meer mak en wilde diere tot skedule 1 van die wet wil toevoeg. Die gewysigde lys waarop belanghebbendes reeds kommentaar gelewer het, sluit onder meer in leeus, renosters, ystervarke en kameelperde. Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het in Februarie ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer waarin belanghebbendes gevra is om kommentaar te lewer op die nuwe toevoegings. Daar is uitgewys dat die wet ook van toepassing is op ander spesies wat nie op die skedule se lys is nie, waaronder voëls, vis en reptiele wat vir verbruik deur mens en dier geslag mag word. Dié skedule sluit ook diere op die lys van bedreigde spesies in. Daarom moet die slag van dié diere vir verbruik deur mens of dier in ooreenstemming wees met die relevante bewaringsbepalings.

Rede vir lys

Dr. Mphane Molefe, direkteur vir openbare gesondheid: veeartsenydienste by die departement van landbou, het verduidelik dat die toevoeging van diere tot die skedulelys nie beteken hulle móét of mág geslag word nie. Die insluiting verseker egter indien so ’n dier geslag word, dit op ’n voorskriftelike manier gedoen word. Daar kan dus beter beheer uitgeoefen word oor hoe die diere vir menslike en dierverbruik geslag word. Ingevolge wetgewing moet diere slegs by geakkrediteerde abattoirs geslag word vir kommersiële gebruik, buiten vir die slag vir eie gebruik en vir kulturele of geloofsdoeleindes. Die wet reguleer ook die invoer en uitvoer van vleis, vel, been en horings.

 “Die besluit oor watter dier vir menslike gebruik geslag mag word, val buite die magte van die wet,” het Molefe gesê.

Hy het verduidelik indien diere wat op die lys vir bedreigde spesies is, vir menslike gebruik geslag word, toestemming daarvoor verkry moet word.

Oor kommer dat die slag van wild wat tot die lys toegevoeg is, sal toeneem, het hy gesê olifante en seekoeie is reeds sedert 2000 op die lys, maar dit het nie die slag van hierdie diere laat toeneem nie.

Wildbedryf SA en die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging het die toevoeging van meer wild tot die lys verwelkom.

Leeus

Die toevoeging van veral leeus tot die lys het talle mense wat skriftelik kommentaar ingedien het, rooi laat sien.

Molefe het aan die komitee bevestig dat leeus ook op die lys is. Leeubene word veral na die Ooste uitgevoer waar dit gekook en as ’n brousel gedrink word. Hy het gesê daar is besluit om leeus tot die lys toe te voeg om te voorkom dat hulle met ’n kalmeermiddel geskiet word. “Wanneer mense die leeuvleis eet of die brousel drink, sal daar sekerheid wees dit is veilig en bevat nie kalmeermiddels wat tot mense se dood kan lei nie.”

Molefe het beklemtoon dat die departement glad nie leeuboerdery met die idee vir menslike verbruik aanmoedig nie.

Kameelperde is tot die lys toegevoeg sodat wanneer wildreservate hierdie diere slag en die vleis aan die omliggende gemeenskappe gee, dit wettig sal wees.

Die Politieke Drukgroep vir Diere het in sy kommentaar gesê deur leeus op die lys te plaas, sal amptenare die regulasies rakende die handel in die uitvoer van leeubene kan versag. Dit kan tans slegs wettig uitgevoer word as trofeë. Die toevoeging tot die lys beteken dit kan onder ’n kospermit uitgevoer word. Dit sal ook geld vir enige ander spesie wat vir menslike verbruik uitgevoer word. Die groep het gesê dit is ironies dat hoewel Suid-Afrika daarop aanspraak maak dat hy renosterstropery beveg, renosters ook op die lys geplaas is.