“Moenie dat mense van jou bestemming vergeet nie,” het mnr. Joe Viljoen van ChaZen, wat ’n wildboerdery met verskeie vertakkings in die Vredefort-koepel bedryf, gesê tydens ’n onlangse webinaar van die Noordwes-Universiteit se skool vir toerismebestuur.

Viljoen het gesê mens moet elke moontlike platform gebruik om met kliënte te skakel en hulle te herinner dat hulle weer eendag sal kan reis en dat jou bestemming gereed gaan wees vir hulle.

“Goeie en persoonlike verhoudinge is die sleutel. Ons kommunikeer direk met ons kliënte oral ter wêreld en vertel hulle presies wat in Suid-Afrika gebeur. Ons sorg dat ons op hoogte bly van verwikkelinge met die pandemie en dra alle goeie nuus wat uit die media of van die regering af kom, aan ons kliënte oor.”

Maak gereed

Prof. Peet van der Merwe van die Noordwes-Universiteit se toerismebestuurskool se program vir toerismenavorsing, ekonomie, omgewing en samelewing (TREES) het gesê jag- en ekotoerisme-bestemmings moet verseker hulle kry hul bestemmings gereed vir toeriste en voldoen aan al die vereistes van die staat om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. 

“Sorg dat jou kliënte weet watter stappe jy doen en wat hulle te wagte kan wees wanneer hulle jou bestemming weer mag besoek. Onthou, hulle gaan wil veilig voel. Dit kan beteken dat minder mense gehuisves kan word, dalk net 50% van die gewone getalle.”

Van der Merwe beveel ook aan dat besighede hulle vir eers toespits op die plaaslike mark. Hy het gesê selfs al moet luukse bestemmings wat op oorsese reisigers gerig is nou plaaslike gaste teen laer pryse akkommodeer, is dit beter om eerder ’n kleiner inkomste te verdien as geen inkomste nie. 

Die Suid-Afrikaanse wildbedryf verdien jaarliks omtrent R20 miljard, waarvan R14 miljard uit jag en R3,5 miljard uit die handel in lewende wild verdien word. Die res word opgemaak deur die verkope van wildsvleis en wildsprodukte. Die hele waardeketting het sedert die begin van die staat van inperking tot stilstand gekom.

Om dinge erger te maak is jag- en ekotoerismebestemmings oor die algemeen in landelike gebiede, waar dit ’n groot impak het op armoedeverligting. Hy het gesê Suid-Afrika het omtrent 5 000 wildsplase wat saam elke jaar gemiddeld 7 500 jagters uit die buiteland en van 200 000 tot 300 000 plaaslike jagters huisves.

Hy het gesê alles moontlik moet gedoen word om die regering te oortuig om minstens plaaslike jag en ekotoerisme weer moontlik te maak.

Me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van WRSA, het gesê dit is een van die brandpunte hoog op dié organisasie se agenda in besprekings met die staat. 

“Ons is voortdurend besig om die haakplekke in die heropening te identifiseer en met oplossings vorendag te kom wat ons dan aan die betrokke staatsdepartemente voorlê. Dit is vir ons belangrik dat die staat besef ons kliënte se veiligheid en gesondheid is ons prioriteit.”