Hy het die lede van Landbouskrywers SA toegespreek oor die weertendense wat die komende somer kan voorkom.

Volgens geskiedkundige weerneigings is die kans dat ’n La Niña-stelsel die hele somer kan voorkom sowat 80% as die stelsel in September reeds goed gevestig is. Volgens weermodelle het die Enso-verskynsel (El Niño Suidelike Ossilasie) vanaf April in ’n negatiewe fase inbeweeg, met ’n La Niña-verskynsel wat begin voorkom vandat die Enso-temperatuur -0,5 °C of meer ondernormaal is (’n El Niño-stelsel kom voor wanneer die Enso-temperatuur 0,5°C of meer bonormaal is.)

Sedert Augustus het die stelsel na ’n relatiewe sterk La Niña-fase begin beweeg, en die verwagting is dat dit teen Oktober, November en Desember ’n Enso-temperatuur van -1,5 °C gaan bereik, wat dui op ’n baie sterk La Niña-stelsel wat baie goeie nuus is vir somerreënval.

weergrafiek
Bron: Australiese buro vir meteorologie

Reën

Die goeie vooruitsigte vir reën word ook ondersteun deur die Indiese Oseaan-dipool wat sedert Junie vanjaar negatief begin neig het. ’n Sterk positiewe IOD, soos wat aan die begin van die 2019-’20-somerseisoen geheers het, beïnvloed reënval oor Suider-Afrika negatief, terwyl ’n positiewe IOD bydra tot goeie reënval oor die streek.

weergrafiek
Bron: Australiese buro vir meteorologie

Volgens weermodelle van die Universiteit van Queensland is die vooruitsigte vir goeie neerslae in die oostelike tot sentrale dele van die land goed vanaf Oktober, met dié reënpatroon wat stelselmatig uitbrei om ook die westelike dele van die land in te sluit vanaf November. Goeie neerslae word oor groot dele van die land verwag vanaf November vanjaar tot April 2021, met dié neerslae wat van Maart tot Mei 2021 na die Suid-Kaap kan uitbrei.

weergrafiek
Bron: Universiteit van Queensland

Van den Berg sê ’n sterk La Niña-stelsel is veral goeie nuus vir die westelike dele van die land ten opsigte van reënval, en die erge droogtesiklus van die afgelope paar jaar – tot agt jaar in sommige dele – kan nou opgevolg word deur ’n natter siklus van tot vyf jaar. “Ons is naby aan die natter siklus en met ’n La Niña-stelsel in die 2020-’21-seisoen, asook Indiese Oseaan wat gunstig is vir reënval, is baie natter toestande en vloede moontlik.”

Historiese data dui aan dat in jare wat ’n sterk La Niña-stelsel en ’n negatiewe IOD voorgekom het, bogemiddelde reën geval het. Een so seisoen was die 1974-’75-seisoen, toe reënval oor onder meer die distrik Graaff-Reinet 101% bogemiddeld was, terwyl dit oor die distrik Kenhardt 201% bogemiddeld was.

In die 1975-’76-seisoen het die twee stelsels saam bygedra tot bogemiddelde reënval van 50% tot 82% in die distrikte van Lichtenburg, Graaff-Reinet en Kenhardt.

weergrafiek
Bron: Johan van den Berg